GEORGE NUUS - Solidariteit Helpende Hand (HH) se tweede jaarlikse Kerrie- en kuieraand Vrydagaand in die Gereformeerde kerksaal in George-Oos is goed ondersteun en was 'n heerlike gesellige aand met seremoniemeester, Jaco Koekemoer, wat die gees goed aangewakker het.
Die Kerrie- en kuieraand is 'n belangrike fondsinsameling vir die Solidariteit-gemeenskapstudiefonds wat rentevrye studielenings toestaan aan studente in George wat dit nie andersins kan bekostig nie, of wat nie by 'n bank geholpe kan raak nie.
Alna de Waal, senior maatskaplike werker vir die Suid-Kaap, het in haar toespraak gesê vyf studente word tans in George met rentevrye studielenings gehelp. "Daarmee word vir hulle 'n toekoms met geleenthede geskep. Die gemeenskapstudiefonds van die groter HH se sukses strek al oor 14 jaar, en het reeds die bedrag van R45m aan 120 studiefondse met 1 591 toekennings in nege provinsies gedoen."
HH se 127 Ons Winkels, wat tweedehandse klere en ware verkoop en waarvan daar ook 'n tak in George is, dra ook by tot die studiefonds.
De Waal het gesê HH is deel van die Solidariteit-beweging en vorm saam met AfriForum en die Solidariteit-vakbond een van die grootste entiteite in die beweging.
"Deur middel van nagevorsde programme en projekte en hulpverlening aan individue of gesinne word gemeenskappe versterk sodat hulle selfstandig en hoopvol kan funksioneer."
Gaste wat ’n lekker kuier saam met Helpende Hand geniet het, is van links: Pieter van der Merwe, Rene Steyn, Luzell van der Walt, Tienie Bekker, Floris van der Walt, Jannie van Zyl, Sarie van Zyl en Adri Bekker.
De Waal het voorbeelde gegee van die praktiese en sinvolle maniere waarop uitgereik word na veral vier kwesbare groepe: kinders, gesinne, ouer persone en persone met gestremdhede. Hulle ideaal is dat instansies soos kerke, skole, ouetehuise en ander organisasies met HH sal hande vat en saamwerk na 'n gemeenskaplike doel van meer veerkragtige gemeenskappe.
"HH fasiliteer hierdie aksies waar moontlik. Die organisasie beskik oor 170 personeellede landwyd van wie agt in die Wes-Kaap werk. In die Suid-Kaap is daar tans agt takke in verskillende dorpe."
Seremoniemeester, Jaco Koekemoer, saam met die span vrywilligers wat die organisering van die aand behartig het, van links, voor: Regina Koekemoer (sekretaresse), Amelia Lang (ondervoorsitter) en Johanda de Bruyn. Agter: Surina Raubenheimer, Tracey Weideman (voorsitter), Chantell Botes en Karen du Plessis.
Juan Barnard, 'n pa wie se dogter, Lilani Barnard-Benadé, met behulp van 'n lening van die HH-studiefonds haar mediese graad verwerf het, het vertel hoe dit hulle gehelp het. Daar is verskeie sulke voorbeelde van George-studente wat kwalifikasies kon verwerf het danksy die studiefonds.
Hope lekker pryse is tydens die aand in gelukstrekkings uitgedeel en 'n veiling van items wat deur vrygewige borge geskenk is, het gehelp om die studiefonds 'n broodnodige hupstoot te gee.
'n Span toegewyde vrywilligers, wat die hande en voete van HH in die gemeenskap is, was verantwoordelik vir die organisering van die geleentheid.
Ds. Johannes de Bruyn, leraar van die Gereformeerde Kerk, en sy vrou, Liezl, was saam met Nicole (naasregs) en Sanet Richter aan ’n tafel.
Oelof en Christa de Meyer het saam met Nierissa en Danie Redelinghuys (regs) gekuier.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’