GEORGE NUUS - Inwoners van Europe in Pacaltsdorp was diep geskok nadat munisipale werkers glo Saterdag 22 Maart 'n dooie bees in 'n oop veld, slegs 'n paar meter van hul huise in Cypresstraat, die gebied agter die polisiestasie, begrawe het. Volgens een van die inwoners, Anna Konstabel, het die insident omstreeks 20:00 gebeur.
Die karkas is vroeër die dag elders in Pacaltsdorp gevind waar dit langs die pad gelê het.
Volgens Konstabel het sy die werkers gevra waarom hulle die karkas juis daar begrawe. Hulle het glo geantwoord dat hulle nie ander plek daarvoor het nie.
Ná die inwoners met die burgemees-terskomiteelid vir gemeenskapsdienste, Marchell Kleynhans, kontak gemaak het, is die munisipaliteit weer Maandagoggend, 24 Maart, ontbied om die karkas te verwyder.
Volgens 'n senior skakelbeampte van die munisipaliteit, Ntobeko Mangqwengqwe, is hulle bewus van die voorval.
"Die waarnemende munisipale bestuurder het 'n interne ondersoek van stapel gestuur om die feite rondom die begrawing van die karkas vas te stel. Die munisipaliteit is tans besig om verklarings van alle betrokke partye en amptenare in te samel," het Mangqwengqwe by navraag gesê.
Hy sê verdere inligting sal verskaf word sodra die ondersoek afgehandel is.
Maar die Europeërs se penarie stop nie daar nie en die sout op hul wonde is die konstante onwettige rommelstorting wat óók in dieselfde veld plaasvind.
"Die mense kom met bakkies in die nag en kom dump hulle goed hier," sê Konstabel. "Dis alles van bourommel tot dooie diere en alles waaraan jy kan dink. Die stank is verskriklik. Jy moet kom kyk, jy sal naar word."
Volgens haar en ander inwoners, sukkel hulle al jare lank met dié probleem en verskeie klagtes is al aan owerhede gerig.
"Ons sukkel al vir jare. Ons weet nie meer watter kant toe nie. Dit lyk so hulle het ons weggegooi en van ons vergeet."
Mangqwengqwe het in sy antwoord op George Herald se medianavraag gesê die munisipaliteit is bewus van die onwettige storting in die area, maar herinner ook die publiek daaraan dat onwettige storting van vullis 'n strafbare oortreding is, en wetstoepassing sal boetes uitreik aan enige persoon wat betrap word.
"George-munisipaliteit is bewus van die voortgesette onwettige storting in die area en het sy skoonmaakspan opdrag gegee om dit in hul geskeduleerde skoonmaakoperasies in te sluit. Ons doen 'n beroep op inwoners om enige onwettige storting te rapporteer, en ons wetstoepassingspanne sal die nodige stappe teen die oortreders neem."
Die onwettige storting in die oop veld oorkant Anna Konstabel se huis, is besig om haar en ander inwoners teen die mure uit te dryf.
Nog 'n dooie dier, 'n kalfie, is bloot net in die pad gegooi.‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’