GEORGE NUUS - Hoewel die Kankervereniging (Kansa) ook geraak word deur die Covid-19-inperkingsregulasies, word tegnologie ingespan om te verseker dat die organisasie se bedrywighede en dienste voortgaan.
Volgens Henley Botha, volhoubaarheidsbestuurder vir die Wes-, Suid- en Oos-Kaap, help tegnologie ook om beter maniere te bewerkstellig om dienste te lewer. Botha was die spreker tydens Kansa se onlangse 90-jarige viering wat virtueel gehou is.
Plaaslike vrywilligers en personeel was by Kansa se kantore te Merrimanstraat 103 om dit geleentheid saam op 'n groot skerm te geniet.
Botha het gesê die 90-jarige verjaarsdag is 'n merkwaardige mylpaal. "Ons is steeds gebaseer by die Kansa-sorgsentrum in George sonder om enige huidige dienste te verbeur. Ek wil graag ons gewaardeerde gemeenskap en ondersteuners verseker dat ten spyte van die moeilike ekonomiese tye wat ons in die gesig staar, Kansa se personeel en vrywilligers vasstaan in ons toewyding om sorg en ondersteuning te bied aan dié wat deur kanker geraak word."
Die organisasie neem stappe om dienste en geldinsamelingspogings te moderniseer. Noodsaaklike dienste soos kankersifting en verhuring van mediese toerusting asook die versorging van pasiënte by die Irma Bruschi-sorgtuiste gaan voort tydens die inperking. Die gratis aanlyn- en telefoniese diens en ondersteuning in sewe tale via die Kansa-teleberadingsdiens, asook navorsings- en voorspraakprogramme gaan ook voort.
Twee nuwe inligtingsboekies is onlangs gepubliseer, die Kansa Tuisgids vir Pyn en Kansa Tuisgids vir Kinders met Pyn om pasiënte, geliefdes, families en versorgers toe te rus om pynbestuur te kan hanteer.
"Ons is groot dank verskuldig aan die gemeenskap van George en die Suid-Kaap wat voortgaan om ons te ondersteun deur geldinsamelingsprojekte. Ons gemeenskapskoördineerder, Adri Odendaal werk oor die hele Suid-Kaap en is gretig om die baie lojale donateurs en vrywilligers in George te ontmoet."
Vrywilligers en personeel wat die virtuele viering van Kansa se 90ste bestaansjaar bygewoon het, is agter, van links: Jackie Biljon, Adri Jansen van Nieuwenhuizen, Abelen Booysen, Charmaine Percy, Sophia Appels, Rita Marx, Lee-Anne Roeloffze en Chantal Erasmus. Voor: Sonja Booysen, Doreen Lingerveld, Esther Abrahams, Petronella Saayman, Theresa Ruiters, Agnes Maree en Angela Appels.
Foto's: Alida de Beer
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'