Update
GEORGE NUUS - Sy goue medalje, trofee én sertifikaat is in die pos, al die pad van Hongkong.
Die 17-jarige slimkop, Jaco Jacobs (17), 'n graad-11 leerder aan Hoërskool Outeniqua, het die hoogste prestasie in die kategorie "Fisika en Ingenieurswese" tydens die 2022 Global Youth Science and Technology Bowl (GYSTB) Wetenskap-uitstalling in Hongkong met sy drukreguleerder vir fietsbande behaal.
Jaco het 'n stelsel ontwerp wat gebruik kan word om die druk in fietsbande outomaties te reguleer.
Hy is een van twee tieners in die land wat deur Eskom-ekspo vir jong wetenskaplikes gekies is om Suid-Afrika by dié geleentheid te verteenwoordig.
Jaco het op Saterdag 11 Junie 'n virtuele onderhoud met internasionale beoordelaars gevoer en het Sondag 12 Junie die goeie nuus ontvang dat hy een van die vier kategoriewenners is (twee wenners per kategorie).
Die ander kategorie is Chemie en Biologie. Die prysuitdelingseremonie is regstreeks op Facebook uitgesaai.
Die ander Suid-Afrikaner wat die geleentheid bygewoon het is Nicolaas Moolman (18) van Hoërskool Volksrust in Mpumalanga.
Nicolaas het 'n tweede plek behaal vir sy navorsingsprojek oor indringerplante en hul moontlike gebruik om die mikrobiese bederf van vars voedselprodukte te voorkom.
Jong wetenskaplikes van oor die wêreld het die kans gehad om oor hul projekte te gesels.
"Ek het soveel geleer uit die hele ervaring, veral om te sien hoe mense uit alle lande dink. Daar is baie meer kennis en potensiaal buite en binne ons land. Dit gee 'n mens perspektief," het Jaco gesê in gesprek oor die ongelooflike ervaring.
"Die onderhoud was 'n uitdaging. Ek was 'n bietjie op my senuwees met die internasionale beoordelaars en die feit dat soveel mense kon luister - ek was na die tyd bly dit was verby. Ek het 'n paar foutjies gemaak, maar blykbaar was dit nie te groot nie. Die onderhoud was skaars verby toe bel van my ma se vriende uit Uitenhage wat ook geluister het."
REGS: Jaco het 'n stelsel ontwerp wat gebruik kan word om die druk in fietsbande outomaties te reguleer.
Kennis en ervaring
Oor sy sukses het Jaco gesê hy het dit glad nie verwag nie. "Toe ek begin luister na almal se projekte, het dit my aarde toe gebring. Vir my gaan dit oor die kennis wat 'n mens tydens so 'n ervaring opdoen, en die blootstelling." Meer as 120 projekte is vir die wetenskapuitstalling ingeskryf.
Vir sy toekoms hou Jaco 'n oop kop. "Ek wil graag eendag 'n besigheid begin terwyl ek meer leer en studeer."
By die skool het onnies hom met sy uitsonderlike prestasie gelukgewens, nadat Eskom einde verlede week die aankondiging gemaak het. Intussen neem Jaco binnekort aan Eskom-ekspo vir jong wetenskaplikes se streekkompetisie deel, wat einde Julie by Hoërskool Outeniqua plaasvind.
Vir die kompetisie het Jaco heelwat veranderinge by sy bestaande prototipe aangebring en sal hy verder daaraan werk tydens die komende skoolvakansie.
Registrasie vir leerders (gr. 4 tot 12) van die Eden/Karoo-distrik vir Eskom-ekspo 2022 sluit 22 Julie.
Alle projekte moet teen 26 Julie aanlyn opgelaai wees.
Vir meer inligting besoek www.exposcience.co.za.
'n Skermgreep van die virtuele aanbieding waartydens Jaco Jacobs (17) en nog 'n ander deelnemer as die kategoriewenners vir Fisika en Ingenieurswese, aangekondig is.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'