GEORGE NUUS - 'n Span van sowat 30 plaaslike weldoeners saam met Troy Lewis en Braam du Preez van die Camphersdrift, Glen Barrie en Heatherlands-buurtwag (CGHNW) asook lede van die Keep Our Forest Safe-beweging (Kofs) het Dinsdagmiddag, 27 April, saamgespan om rommel in 'n gedeelte van die Witfontein-plantasie op te tel en te verwyder.
Hulle het ook bosslaper-kampe skoongemaak om sodoende moontlike booswigte uit die plantasie te hou.
Die span het sowat 70 sakke vullis opgetel wat hulle in 'n Bok Bakke-stortbak kon gooi om verwyder te word. "Ons gaan oor so twee of drie maande weer so iets reël," sê Chandré Boshoff.
Boshoff, 'n kranige atleet wat lief is vir die woud en ook 'n lid van Kofs is, sê belang-stellendes sal deur middel van WhatsApp- en Telegram-boodskappe, asook die media, in kennis gestel word van hul volgende projek.
Buurtwaglede van CGHNW het saam met 'n paar weldoeners en lede van die Keep Our Forest Safe-beweging ingeklim om die plantasie skoon te maak.
Die groep het die Witfontein-plantasie gefynkam vir rommel. Foto's: Deidré Cloete
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'