Gallery Video
GEORGE NUUS - ’n Totaal van 25 gesinne wie se huise weens die stormweer onbewoonbaar gelaat is, word sedert Maandagaand in die Pacaltsdorp-gemeenskapsaal gehuisves. ’n Span van die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling het vanoggend daar assesserings van hul noodbehoeftes gedoen.
Die reën wat op Maandag se windstorms gevolg het, het veroorsaak dat baie huishoudelike besittings onherstelbare waterskade opgedoen het.
Volgens Nolubabalo Batakato, ’n amptenaar van die departement se maatskaplike ondersteuningsafdeling, is daar ook 24 gesinne in die Sone 3-gemeenskapsaal in Thembalethu en 29 by die All Brick-gemeenskapsaal, waar assesserings vandag sal plaasvind.
Ingrid Phooko van dieselfde afdeling het gesê die inligting word aan die George- en Tuinroete-munisipaliteite se gesamentlike operasiesentrums deurgegee. “Noodvoorrade, waaronder matrasse, komberse en kos, is tans vanaf die provinsiale departement onderweg om gemeenskappe hier te help.”
Clive Roelf, ’n jongman wat saam met sy twee broers in Moeggeploeg woon, vertel toe die wind Maandag aan die dak van sy huis begin ruk het, het hy swaar voorwerpe soos sementblokke en groot houtstompe daarop gepak.
Roelf het later probeer om met meubelstukke ’n soort fort binne die huis te bou, maar ’n dakplaat het afgewaai. Toe het die reën begin uitsak. Bouersplastiek wat hy by ’n buurman gekry het om die dak tydelik te herstel, was vergeefs. Sy huis het oorstroom en sandsakke wat hy vooraf gepak het, kon nie help nie. Hy het byna al sy besittings verloor.
’n Jong ma, Ronel Plaatjies van die Corton Valley-informele nedersetting in New Dawn Park, haar dogter Rozanne en haar vriend, Elton Brandjies, is dakloos nadat hul struktuur uitmekaar gewaai is.
Clive Roelf het vir homself 'n privaat hoekie ingerig op die verhoog van die gemeenskapsaal waar almal op matrasse slaap.
Elsabe Scheepers, ook van New Dawn Park, sê sy het op haar bed gelê toe ’n klip deur die huis se dak val. “Ek het net betyds opgespring. Die dakplate het ’n paar keer op en af gewip. Toe ek omdraai, val daar ’n dakplaat op die vloer langs my. Die wind het nóg een afgeruk en dit het in die bure se tuin beland.” Daarna het sy na buite gevlug.
Die 73-jarige Miena Yazo van Wilgerstraat sê haar struktuur het in die wind begin wieg. Toe die beweging te erg raak, het sy uitgevlug en teen die huis van die huiseienaar gaan skuil terwyl sy moes toekyk hoe die wind haar plekkie uitmekaar waai. Die reën het verdere skade veroorsaak.
Mina Yazo in geleende klere.
Herman Philander van die Pacaltsdorp Mansgemeenskapsgroep het Maandag dadelik ingespring om mense in nood by te staan en namens hulle die boodskap in die gemeenskap uitgestuur om te vra vir hulp.
Hy het al die Pacaltsdorpers bedank wat op hulle noodkreet gereageer het en kos, klere en komberse geskenk het. Onder hulle was Yolandi en Layton Jordaan, asook Maggie Stride, wat kos en sop voorsien het. Hy het frustrasie uitgespreek oor wat hulle ervaar het as traagheid van owerheidskant om hulp te verleen aan mense wat werklik in die nood was.
'n Moedelose inwoner.
Van die kinders van Pacaltsdorp wat in die saal gehuisves word.
Amptenare van Maatskaplike Ontwikkeling doen assessering.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’