GEORGE NUUS - Die veel besproke ‘huwelik’ tussen die OD en DA het die afgelope paar weke heelwat menings uit verskillende oorde uitgelok, maar die plaaslike ANC-koukus het hulle woorde teenoor die media getel.
Tydens die raadsvergadering verlede week was daar egter ‘n interessante gesprek met ‘n plaaslike leier van die nuwe opposisieparty.
Anton Titus, voorsitter van die ANC se George-substreek, het ingestem om ‘n onderhoud met die George Herald toe te staan en duidelikheid rondom die volgende vrae te verskaf:
Wat is die ANC se gevoel oor die nuwe DA-koalisie? Was dit ‘n skok?
Die nasionale eenwording van die DA en OD, asook die totstandkoming van die huidige koalisie is nie ‘n skok vir die ANC nie. In ons opinie is dit ‘n proses wat reeds ‘n geruime tyd broei en uiteindelik tot stand gekom het. Die koalisie is slegs die implementering van ‘n bestaande ooreenkoms tussen die twee partye wat reeds in November 2009 moes plaasvind, waartydens die OD die burgemeestersposisie sou kry.
Watter dienste en mylpale het die ANC in hul ses maande termyn as die heersende party in George vermag?
Dit is ons opregte opinie dat die ANC ‘n klimaat geskep het waar demokrasie in die werklike sin beoefen kon word. Die ANC het die gemeenskap toegelaat om vrae te vra wat deur ‘n proses in raadsvergaderings beland het.
Ons het ook verseker dat die voorsitter van Scopa nie van die regerende party of die uitvoerende komitee gekom het nie, maar van die opposisiepartye, wat groter deursigtigheid aan prosesse gegee het.
Die ANC het die IDP-proses aktief gelei, insluitend die bekragtiging van die plaaslike begroting deur publieke deelname, en ons is oortuig dat die arm gemeenskappe se stem duidelik gehoor kan word binne die beleidsdokumente.
Ons het ook die publiek bewus gemaak van die oorspandering van miljoene rande en lenings wat gemaak is om projekte te finansier in gebiede wat dit nie eens nodig gehad het nie.
So het ons seker gemaak dat skewe dienslewering ietwat geneutraliseer is. Laastens wil ons noem dat ons gewillig was om korrupsie te openbaar wat tans hangend is.
Dink julle daar is baie OD-ondersteuners wat met die volgende verkiesing hulle stem vir die ANC sal gee? Is daar ‘n kans dat van die raadslede dalk mag oorbeweeg na die ANC, met dubbele lidmaatskap, voor die volgende verkiesing?
Die OD en DA se doelwitte verskil hemelsbreed van mekaar vanweë ‘n historiese stryd teen slawerny, kolonialisme en apartheid. Die herbouproses om ‘n verenigde, nie-rassige, nie-seksistiese en voorspoedige samelewing te skep is nou eers in wording en die moontlikheid van konflik lê breed in die pad van die koalisie.
Die ANC in George is nie bewus van enige raadslede wat oorweeg om na die ANC toe te kom nie, maar almal is welkom om terug huis toe te kom. Dubbele lidmaatskap van politieke partye is egter ongrondwetlik binne die ANC en enigiemand skuldig in dié verband kan gedissiplineer word.
Wat is julle indrukke van die nuwe kandidate wat as speaker, onderburgemeester en burgemeester verkies is?
Die privaat kapitaal wat die DA se agenda, prioriteite en strategieë bepaal en dryf, maak ‘n betekenisvolle politieke punt dat die bruin gebiede vir hulle uiters belangrik is in die aanloop tot die plaaslike verkiesingsproses vir 2011. Hierdie is kandidate wat eens deel was van die nasionale demokratiese revolusie, hulle ken die ANC se sterk punte en swak punte, hulle ken ons strategieë en kultuur en hulle het deurlopend ‘n voorgevoel van wat ons volgende stap gaan wees. Dit is persone wat die ANC nie vertrou nie, maar ons is gewillig om saam met hulle te werk op raadsvlak in belang van ons mense.
Artikel en foto: Michelle Pienaar