GEORGE NUUS - Wat veronderstel was om 'n rustige Sondagoggend voor kerk (op 12 Mei) te wees, het vir Adam Fritz, 'n inwoner van die Wildernesshoogte informele nedersetting, in 'n bloedige nagmerrie ontaard. Fritz is deur 'n groep honde aangeval toe hy by hulle eienaar wou gaan hout koop.
Hy vertel hy was ongeveer 40 of 50 meter weg van die huis waar die hout verkoop word toe hy die honde sien.
"Ek het bly staan en na die mense geroep, want ek het gehoor die honde byt. Daar is nie 'n heining om die huis nie. Die mense van die huis was egter nie daar nie en die honde het op my afgestorm."
Hy sê twee van die groot honde het hom aan weerskante getakel - een het hom aan sy linkerhand beetgekry en die ander sy regterkant. "'Nog 'n hond het toe vir my gesig gegaan en ek het met my arm gekeer." Dit was vreesaanjaende oomblikke. "Ek kan onthou dat ek die een hond gegryp het om hom van my af te probeer weggooi."
Sy redding was twee vroue wat in 'n motor daar verbygekom het.
Volgens Melody van Aardt was sy saam met haar ma, Dorothy, op pad huis toe in Remskoenstraat (wat na die Kaart van Afrika-uitsigpunt lei) toe hulle op die toneel afkom.
"Omdat dit so vroeg was, was dit tjoepstil en niemand was naby om Adam te help nie, maak nie saak hoe hy hard hy kon skreeu nie. Die honde het net aanhou byt.
Hulle het na die kant van die pad gery sodat hulle tussen Adam en die honde kon inbeweeg.
"Ons het die ruite afgedraai en begin skreeu. Hulle het uiteindelik terug-gehardloop na waar hulle vandaan gekom het. As ons nie opgedaag het nie, kon Adam se beserings baie erger gewees het."
Die rowe het afgeval, maar die merke wys nog op sy borskas.
Die Van Aardts het hom op die toneel noodhulpbehandeling gegee. Die volgende dag het sy werkgewer, Mike Leggatt, hom hospitaal toe geneem. Hy is vir 'n week afgeboek van sy werk.
Fritz vertel: "Die dokter sê as die een byt net 'n bietjie na die anderkant toe was, sou my een arm verlam gewees het." Van Aardt sê sy is bekommerd oor die oorbevolking van honde in die nedersetting.
"Dit het buite beheer geraak. Ons het hulp dringend nodig. Van die honde is in 'n slegte toestand."
Die binnekant van Adam Fritz se een arm.
Leggatt sê dit is hoog tyd dat honde-eienaars in informele nedersettings ook by munisipale wette hou. "Ek moes 'n heining om my tuin sit omdat ek diere het. Adam was amper dood. Almal in die gebied kry nou veghonde, en dis als goed en wel, maar dan moet hulle agter heinings aangehou word. Baie fietsryers ry in hierdie gebied."
Kommunikasiehoof van die George-munisipaliteit Chantel Edwards-Klose het by navraag gesê die munisipale bywette rakende diere is van toepassing op alle inwoners.
'n Boete van R1 000 is aan die eienaar van die honde oorhandig.
Die Dierebeskermingsvereniging (DBV) het nie op George Herald se navraag gereageer nie, maar volgens Edwards-Klose is twee honde geskut, wat terug is by die eienaar nadat 'n heining tot bevrediging van die DBV opgerig is.
Die honde is in 'n goeie toestand. 'n Derde hond wat weggeneem is, is 'n rondloperhond.
Die eienaar van die honde het Fritz 'n bedrag geld gegee as vergoeding vir sy beserings en verlies aan inkomste. Sy wou nie kommentaar lewer nie.
Die bytmerke spreek vanself. Die foto's is geneem agt dae na die voorval.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'