Update
GEORGE NUUS - Na aanleiding van 'n onwelriekende storie wat homself twee weke gelede in Golden Valley, Blanco afgespeel het, het George-munisipaliteit te kenne gegee dat dié area, insluitende Mountain View, voortdurende uitdagings bied in terme van riool en rommel.
Die Figelands van Vloedstraat se huis was onlangs onder riool toe hulle by die huis kom.
Hoewel inwoners meen die "verouderde" rioolstelsel moet vervang word omdat dit nie die hoeveelheid huishoudings in die area kan hanteer nie, hou George-munisipaliteit vol dat die stelsel voldoende kapasiteit het en sonder probleme onder normale omstandighede kan werk.
Volgens die munisipaliteit se waarnemende direkteur van siviele ingenieursdienste, Ernest Claassen, word verstoppings deur voorwerpe soos plastiek, lappe en sanitêre items wat in toilette en dreine weggegooi word, veroorsaak.
Wanneer verstoppings in die hoofrioollyne voorkom, kan dit oorloop, wat veroorsaak dat riool terugvloei en by die laagste punt uitstroom, en in sommige gevalle, soos wat met die Figelands gebeur het, kan dit tot in die huise opstoot.
Opgradering sal nie help nie
"Opgraderings of heropbou van die stelsel sal nie die huidige verstoppings oplos nie," sê Claassen.
Hy sê ook Blanco se topografie bied verskeie uitdagings vir sommige eiendomme, veral dié wat onder straatvlak of die hooflynmangatdekselvlakke geleë is. In sulke gevalle word mangatdeksels hoër geplaas as die slootvlakke en interne rioolstelsels op hierdie eiendomme.
"Wanneer verstoppings in die hoofrioollyne voorkom, kan die lyne oorloop, wat veroorsaak dat riool terugvloei en by die laagste punt uitloop," verduidelik Claassen.
In hierdie stadium hanteer die munisipaliteit klagtes op 'n individuele basis, aangesien daar geen universele oplossing vir alle geaffekteerde huishoudings is nie.
In die geval van die Figelands skuif hulle die huisverbinding om die risiko van herhaling te beperk.
"Ons spanne werk tans aktief in die geaffekteerde areas en maak die verstoppings skoon soos dit voorkom," sê Claassen. Volgens hom het hulle onlangs twee verstoppings skoongemaak, waarvan een in die Malgasrivier was. Die verstoppings was weer 'n geval van vreemde voorwerpe in die rioolstelsel.
Meld klagtes só aan
Claassen doen 'n beroep op die gemeenskap om amptelike munisipale kanale te gebruik om rioolverwante probleme aan te meld.
Gebruik die My Smart City-toep, of meld klagtes aan by 044 801 9262/66 of per e-pos na gmun@george.gov.za (slegs nie-noodgevalle).
Klagtes kan ook by die munisipale gebou by Yorkstraat 71 aangemeld word. Klaers moet onthou om vir 'n Collab-verwysingsnommer te vra om die klagtes op te volg.
• 'n Media navraag is ook na Mountain View gestuur vir terugvoer. Geen terugvoer is ontvang nie.
Vorige artikels:
Riool vloei uit 'n mangat in Golden Valley. Dié foto is Maandagmiddag, 13 Januarie, vir George Herald gestuur.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’