GEORGE NUUS - 'n Rioolprobleem wat inwoners van Golden Valley in Blanco glo al vir ongeveer 15 jaar teister, het Dinsdagmiddag, 7 Januarie, tot 'n groot tameletjie van 'n ander kleur en geur vir die Figeland-gesin van Vloedstraat gelei.
Toe Melinda Figeland omstreeks 17:00 ná werk by die huis aankom, is sy begroet met nie nét die walglike stank van rou riool nie, maar haar hele huis was daarin oorstroom.
Volgens haar man, Christo, moes die mangat vol geraak het, en die riool het deur die toilet terug in hul huis opgestoot.
"Dis nie die eerste keer dat dit gebeur nie. Verlede jaar in Augustus/September het dit ook gebeur, en dit was nóg erger as nou. Ons yskas en stoof het skade opgedoen en ons moes albei vervang," vertel Christo.
Hy sê munisipale werkers was vinnig op die toneel om skoon te maak, maar die huis is nog nat en die reuk hang nog sterk. "Dit is om van naar te raak," sê hy. "Ons kan nie eers binne in die huis kom nie. Dis 'n regte shitty situasie."
Volgens 'n gemeenskapswerker, Sam Crowley, kom die probleem met die riool al die afgelope 15 jaar aan.
"Sedert die eerste nuwe woonbuurt, sogenaamd Poppedorp, ontwikkel is. Sedertdien is nog 'n woonbuurt, Kingston, gebou en meer onlangs is die kompleks, Mountain View, ook ontwikkel. Al die riool van die ontwikkelings vloei steeds deur die ou infrastruktuur sonder dat dit opgegradeer is," sê Crowley.
Hy sê elke Desember, veral op warm dae, hang daar 'n geweldige stank oor die gebied. Die rioolvloei beland uiteindelik in die Malgasrivier en besoedeling is aan die orde van die dag. "Die riool en bykomende dampe bly 'n uitdaging wat so gou as moontlik aangespreek moet word. Die infrastruktuur moet vervang of opgegradeer word," sê Crowley.
Munisipale werkers was vinnig op die toneel om skoon te maak, maar die walglike reuk is iets waarmee die Figeland-gesin vir 'n ruk gaan moet saamleef.
Probleemarea
Intussen het George-munisipaliteit te kenne gegee dat die Golden Valley-area, insluitende Mountain View, voortdurende uitdagings bied in terme van riool.
Die rioolstelsel is ontwerp om standaard- residensiële en industriële afvalwater te hanteer, tog kom daar gereeld verstoppings voor.
Die munisipaliteit se waarnemende direkteur van siviele ingenieursdienste, Ernest Claassen, sê egter die rioolstelsel in Blanco het voldoende kapasiteit en werk sonder probleme onder normale omstandighede.
"Verstoppings word veroorsaak deur die misbruik van die rioolstelsel, met vreemde voorwerpe soos plastiek, lappe en sanitêre items wat in toilette en dreine weggegooi word. Opgraderings of heropbou van die stelsel sal nie die huidige verstoppings oplos nie," sê Claassen.
Claassen sê hulle het empatie met die inwoners wat deur die riooloorloop geraak word, maar Blanco se topografie bied ook uitdagings vir sommige eiendomme.
"Veral dié wat onder straatvlak of die hooflynmangatdekselvlakke geleë is. In sulke gevalle word mangatdeksels hoër geplaas as die slootvlakke en interne rioolstelsels op hierdie eiendomme. Gevolglik, wanneer verstoppings in die hoofrioollyne voorkom, kan die lyne oorloop, wat veroorsaak dat riool terugvloei en by die laagste punt uitloop," verduidelik Claassen.
Die Munisipaliteit hanteer klagtes op ’n individuele basis, aangesien daar geen universele oplossing vir alle geaffekteerde huishoudings is nie.
"In hierdie spesifieke geval skuif die munisipaliteit die huisverbinding om die risiko van herhaling te beperk. Die munisipaliteit het vinnig gereageer om die betrokke huis skoon te maak, te ontsmet en te ontgeur. Ons bly daartoe verbind om hierdie probleme aan te spreek en hul impak op inwoners te minimaliseer," sê Claassen.
Volgens Claassen was daar vinnig gereageer op onlangse klagtes, insluitend dié wat amptelik aangemeld is.
"Ons spanne werk tans aktief in die geaffekteerde areas en maak die verstoppings skoon soos dit voorkom," sê hy.
Hy sê hulle het onlangs twee verstoppings skoongemaak, waarvan een in die Malgasrivier was. Die verstoppings was weer 'n geval van vreemde voorwerpe in die rioolstelsel.
"Die span het ook die rivier behandel met Deo99, wat 'n omgewingsvriendelike reukweerder en E. coli-ontsmettingsmiddel is."
Hoe en waar om klagtes aan te meld
Claassen doen 'n beroep op die gemeenskap om amptelike munisipale kanale te gebruik om rioolverwante probleme aan te meld. Hy sê klagtes wat deur sosiale media en ander nie-amptelike kommunikasiekanale gemaak word, bevat dikwels onvoldoende besonderhede, wat tot vertragings kan lei.
Inwoners kan ook van die My Smart City-toep gebruik maak, of klagtes aanmeld by 044 801 9262/66 of per e-pos na gmun@george.gov.za (slegs nie-noodgevalle).
Klagtes kan ook by die munisipale gebou by 71 Yorkstraat aangemeld word. Klaers moet onthou om vir 'n Collab-verwysingsnommer te vra om die klagtes op te volg.
Die Figelands se huis. Volgens inwoners word die Malgasrivier in Blanco deur riool en rommel besoedel. Hulle sê die stank is ondraaglik en hulle sukkel al vir langer as 15 jaar daarmee.
Riool en rommel vloei in die Malgasrivier in.
Die Malgasrivier word glo deur riool en rommel besoedel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’