GEORGE NUUS - Gerugte wat op 'n video gemaak is oor 'n vragmotorwiel wat voor 'n voertuig op die N2 naby die Maalgate-brug ingerol is, kon nie bevestig word nie.
Volgens 'n stemboodskap wat saam met dié video onlangs die rondes op sosiale media gemaak het, is 'n vragmotor se wiel voor 'n motoris se voertuig op die N2 ingerol waarna die bestuurder beheer oor die voertuig verloor het.
Die voertuig het op sy sykant tot stilstand gekom en vyf mans het glo die voertuig genader en die bestuurder probeer beroof.
Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, het bevestig dat daar wel 'n voorval omstreeks 23:15 op Vrydag 10 Desember, naby die Maalgate-brug plaasgevind het.
"Die vroulike bestuurder het slegs geringe beserings tydens die voorval opgedoen. Gerugte dat 'n wiel voor die voertuig ingegooi is, is op hierdie stadium ongegrond. Daar is slegs 'n botsingsverslag oopgemaak, nie 'n kriminele klag nie," sê hy.
Pojie het benadruk dat gerugte van hierdie aard wat op sosiale media versprei word, tot propaganda kan lei en onnodige paniek saai.
"Waardevolle hulpbronne word gebruik om sulke berigte na te speur en te ondersoek. Dié hulpbronne kan elders vir noodgevalle aangewend word," sê Pojie.
Indien daar wel ooggetuies is wat die gerugte kan bevestig, word hulle gevra om hul naaste polisiestasie te kontak.
'n Skermgreep van die video en bykomende stemboodskappe wat op WhatsApp en TikTok versprei is.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'