GEORGE NUUS - Die AfriForum-tak in George onlangs as die Suidstreek-tak van die jaar gekroon. Die toekenning is tydens die AfriForum se kongres van 22 tot 25 Augustus, by ATKV Klein Kariba buite Bela-Bela in Limpopo oorhandig.
Al die burgerregteorganisasie se toptakke is vir hul harde werk in hul gemeenskappe vereer.
Dié AfriForum-tak se fokus is om die gebied te beveilig en sy inwoners te bemagtig om hulself te verdedig.
So spog die George-tak met onder andere twee gespesialiseerde buurtwaglede, 14 opgeleide buurtwag- en operasionele spanleiers, 12 opgeleide inligtingspanleiers en vier traumavrywilligers wat berading aan slagoffers van geweldsmisdade bied.
Hulle is nie 'n vreemde gesig by padblokkades nie, en neem gereeld deel in samewerking met die polisie, gemeenskapspolisiëringsforum en ander buurtwagte in die area.
"Hierdie toekenning is danksy die uitstekende bestuur wat daartoe verbind is om ’n vry, veilige en voorspoedige omgewing te skep," sê Èduan Naudé, voorsitter van AfriForum se George-tak.
"Hierdie sukses behoort egter nie net aan ons nie, maar aan al die veiligheidsrolspelers en ander buurtwagte wat met ons saamwerk om 'n veilige gemeenskap te kweek. Ons sal voortgaan om ons gemeenskap te dien, en saam 'n verskil te maak."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’