GEORGE NUUS - George-munisipaliteit sê 2026 was tot dusver die stilste jaar in agt jaar wat bobbejaanverwante klagtes betref, met slegs 13 klagtes, waarvan vier uit dieselfde straat gekom het.
Dit volg op 'n skrywe deur Pieter Raath, onafhanklike raadslidkandidaat vir die Independent Ratepayers Association of South Africa (Irasa) in wyk 2, waarin hy 'n gekoördineerde bobbejaanbestuurs- en gemeenskapsveiligheidsplan vir Denneoord, Fernridge en omliggende gebiede versoek.
Baie minder klagtes in 2026
Raath het onder meer kommer uitgespreek oor bobbejane wat woongebiede binnegaan en met gevolglike skade aan eiendom, veiligheidsrisiko's, finansiële verliese en 'n impak op inwoners se lewensgehalte.
Richard von Willingh, munisipale wetstoepassingsbestuurder, sê daar is tot dusver hierdie jaar meer as 100 minder klagtes as in vorige jare. In die verlede was tussen 10 en 25 klagtes per maand nie ongewoon nie.
Volgens die munisipaliteit is daar drie bekende bobbejaangroepe wat in George se munisipale gebied beweeg, hoofsaaklik tussen Witfontein en Saasveld. Denneoord, Blanco, Genevafontein, Victoriabaai, Wildernis en Saasveld is van die gebiede wat hulle besoek.
Die munisipaliteit het nie 'n toegewyde bobbejaanmoniterings- of reaksiespan nie. Beamptes ondersoek wel klagtes, maar Von Willingh sê verskeie regulasies oor die beskerming van bobbejane moet tydens optrede nagekom word.
Hy sê die munisipaliteit en CapeNature het ook 'n inligtingspamflet beskikbaar gestel en deel van tyd tot tyd raad met inwoners.
'Nie prioriteit' vir munisipaliteit
Raath het verder gevra dat die prioriteit en begroting vir bobbejaanbestuur verduidelik word en dat 'n gesamentlike risikobeoordeling, duidelike aanmeldings-prosedure en moontlike herinstelling van 'n moniteringspan oorweeg word.
Volgens Von Willingh is bobbejaan-bestuur egter nie tans as 'n prioriteit in die munisipaliteit se geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) geïdentifiseer nie en is daar geen toegewyde munisipale begroting daarvoor nie.
"Die bestuur en bewaring van bobbejane berus primêr by CapeNature as die bevoegde natuurbewaringsowerheid," sê hy.
Die munisipaliteit vervul volgens hom 'n ondersteunende rol, en daar is voortdurende interaksie met alle belanghebbende groepe. "Die klaer is meer as welkom om as 'n lid van die publiek sy plaaslike raadslid te kontak om probleme in die gebied te probeer oplos."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’