Update
GEORGE NUUS - Die DA-koukus het vertroue in Raybin Figland as onderburgemeester van George verloor, en dit is die rede hoekom hy verlede Donderdag sy bedanking ingedien het.
Só het koukusleier en George-burgemeester, Jackie von Brandis, die week gesê.
"Onderburgemeester Raybin Figland het sy bedanking as onderburgemeester ingedien ná 'n onlangse koukusvergadering waartydens die koukus aangedui het dat hulle vertroue in Figland se rol as onderburgemeester verloor het."
Figland het verlede Donderdag tydens 'n gewone raadsvergadering bedank net voordat 'n mosie van wantroue teen hom sou dien. Sy bedanking is deur die speaker, Sean Snyman, aangekondig.
Munisipale woordvoerder, Chantél Edwards, sê Figland se laaste dag as onderburgemeester is op 31 Januarie 2025. Hy sal daarna slegs as 'n proporsionele verteenwoordigende raadslid dien.
Figland wou by navraag nie kommentaar lewer nie, behalwe om te sê sy besluit was "persoonlik".
Von Brandis het nie gesê wanneer 'n nuwe onderburgemeester gekies gaan word nie, maar wel die proses verduidelik.
"Die proses vir die verkiesing van 'n nuwe onderburgemeester behels 'n keuringsproses deur 'n politieke party. Sodra 'n kandidaat genomineer word, gaan dit na die raad. As 'n ander party ook 'n kandidaat nomineer, gaan dit oor tot stemming en die kandidaat met die meeste stemme word dan as onderburgemeester ingesweer."
Die mosie, wat deur die Good-party voorgestel en deur die Plaaslike Besorgde Inwoners (PBI) gesekondeer is, sou deur middel van 'n geheime stemming beslis word, wat raadslede in staat sou stel om sonder vrees vir intimidasie of viktimisasie te stem.
Verlede Woensdag het die DA se federale uitvoerende komitee glo toestemming gegee dat DA-raadslede vrylik kon stem oor die mosie, 'n skuif wat mag dui op spanning binne die party.
Figland se bedanking volg ná maande van omstredenheid oor sy beweerde seksboodskappe met 'n 19-jarige meisie in 2021.
Ten spyte van ondersoeke deur sowel die DA as die George-raad, wat tot die gevolgtrekking gekom het dat daar onvoldoende bewyse is om verder teen Figland op te tree, het Good volgehou dat Figland se optrede onbetaamlik was vir 'n openbare ampsdraer en stappe teen hom geëis.
Terwyl die DA voorheen gesê het dat die saak afgehandel is met verwysing na die weiering van die betrokke jong vrou om te getuig en die afwesigheid van kriminele aanspreeklikheid, het die Good-party en ander raadslede hierdie bevindinge as onvoldoende beskou.
Good het in 'n persverklaring Figland se bedanking verwelkom.
Chantelle Kyd sê hoewel die uitslag [bedanking] 'n oorwinning is vir die inwoners van George, is dit skokkend dat dit so lank geneem het vir Figland en die DA om die regte ding te doen.
"Good bly vasberade dat raadslede aan hoër standaarde gehou moet word. Figland mag wel die raad effektief 31 Januarie 2025 verlaat, maar as Good sal ons voortgaan met die klagtes wat ons by die Openbare Beskermer ingedien het."
Vorige arikel: Deputy Mayor Raybin Figland resigns
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’