GEORGE NUUS - 'n Onlangse peiling deur Solidariteit Helpende Hand toon dat faktore wat mense se gevoel van veiligheid en geborgenheid beïnvloed, is ekonomiese onsekerheid en werkloosheid, geestesgesondheid, stres en fragmentering van en isolasie in die gemeenskap.
Naastenby 70% van mense lys hierdie as die hooffaktore wat die impak op hulle gevoel van veiligheid het.
"Helpende Hand se tema vir 2025 is welstand en die organisasie lê sterk klem op die noodsaaklikheid van geborgenheid – 'n gevoel van veiligheid, aanvaarding en emosionele ondersteuning," sê Lize van Zyl, 'n maatskaplike werker en maatskaplike bestuurder van Helpende Hand.
Onseker tye
Van Zyl sê die peiling, wat in Februarie op sosiale media gedoen is, toon dat Suid-Afrikaners toenemend onseker voel oor hul plek in gemeenskappe omdat faktore soos werkloosheid, gesinsverbrokkeling en 'n gebrek aan ondersteuning hulle gevoel van geborgenheid verswak.
Meer as 'n derde van die respondente ervaar ekonomiese onsekerheid en werk-loosheid as 'n direkte bedreiging vir hul geborgenheid.
Geestesgesondheid, stres en fragmentasie van en isolasie in die gemeenskap raak ook ongeveer 'n derde van die respondente en veroorsaak verdere spanning en onstabiliteit.
"Baie mense beleef tye van isolasie. Dit dui op 'n kritieke tekort aan stabiliteit en ondersteuning in gemeenskappe. Hierdie tendense wys dat geborgenheid nie net 'n persoonlike behoefte is nie, maar 'n sosiale noodsaaklikheid wat stabiliteit en veerkragtigheid bevorder."
Helpende Hand se ondervoorsitter, Amelia Lang (regs) saam met Annelie van Niekerk van Bethesda.
Maatskaplike werkers is belangrik
Van Zyl beklemtoon die belangrikheid van maatskaplike werkers vir die vestiging van geborgenheid in gemeenskappe.
"Maart is Maatskaplikewerkersmaand. Ons wil spesifiek mense se aandag vestig op die kritieke rol wat hierdie professionele persone speel om geborgenheid te versterk deur emosionele ondersteuning te bied en sosiale aanvaarding te bevorder.
"Verder wil ons gemeenskappe bewus maak van en inspireer tot 'n aktiewe betrokkenheid by waardegedrewe inisiatiewe wat geborgenheid en samehorigheid ondersteun.
" So wil ons 'n beweging van hoop, ondersteuning en verbondenheid aanwakker – 'n beweging wat sal help om individue en gemeenskappe sterker, veerkragtiger en meer verbonde te maak."
Hoopdraers kry toekennings
As erkenning van maatskaplike werkers se bydrae in die samelewing sal Hoopdraer-toekennings in samewerking met Solidariteit se Beroepsnetwerk binnekort aan ligdraers in die beroep en gemeenskap oorhandig word.
"Met hierdie inisiatief wil Solidariteit Helpende Hand 'n daadwerklike verskil maak en 'n beweging van hoop, ondersteuning en verbondenheid dryf - 'n tree na 'n sterker, meer geborge samelewing," sê Van Zyl.
Op Internasionale Maatskaplikewerkersdag het taklede van Helpende Hand maatskaplike werkers van die Suid-Kaap bederf, onder meer van Bethesda George, Creative Effective Families van Mosselbaai en ACVV Riversdal.
Volg die veldtog op Helpende Hand se Facebook-blad, Instagram en webtuiste.
Elana Botes (links), 'n onkologiegesondheidswerker, saam met Regina Koekemoer, sekretaresse van die plaaslike Helpende Hand-tak.
Verteenwoordigers van Helpende Hand saam met van die maatskaplike werkers wat bederf is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’