GEORGE NUUS - Vriende en familie het Dinsdag tydens 'n gewyde troosdiens in die NG kerksaal op Heroldsbaai afskeid geneem van Zonita Basson (52), algemeen bekend as Zoe.
Basson het verlede Dinsdagaand, 3 Desember, gesterf toe haar motor, 'n rooi Chevrolet Spark, aan die oostelike kant van Voëlklip by die uitkykpunt in die see gestort het. Geen gemene spel word vermoed nie.
Haar liggaam is Woensdagoggend vroeg deur polisieduikers uit die see gehaal. Die troosdiens is gehou nie ver van waar die motor in die see beland het nie.
Dinsdag se diens is deur ds. Innes Benade gelei en hy het Psalm 23 en Romeine 5:5 voorgelees. Met die lees van Psalm 23 is voldoen aan 'n wens van Basson. Sy wou gehad het dat Psalm 23, haar geliefkoosde Bybelteks, by haar begrafnis voorgelees word.
Benade het woorde van vertroosting vir Basson se familie gehad. Hy het hulle verseker dat sy nou veilig by die Here is.
Tydens die diens het dit aan die lig gekom dat Basson na haar dood veras wou word en dat haar as by haar geliefde Heroldsbaai gestrooi moet word.
Die roubeklaers het Basson se oudste suster, Andoret Nolan se huldeblyk aan haar jonger sussie spontaan met applous beloon. Sy het Basson se karakter perfek vasgevang in haar eerlike en deernisvolle toespraak.
Haar seun, Morné Meiring (28), wat saam met sy ma gewoon het, het ontroosbaar tydens die diens gehuil.
Hans Ottervanger, voorsitter van die George-sportklub se ondersteunersklub, het na die geleentheid vir Basson as 'n opgewekte mens beskryf. Volgens hom was sy lank 'n lid van die klub en het mense van haar gehou.
Basson sal onthou word as 'n vurige vrou met 'n groot hart vir ander en 'n innige liefde vir diere.
Sy het in Denneoord gewoon en in die versekeringsbedryf in George gewerk. Sy word oorleef deur haar ouers, twee susters, seun en dogter.
Sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het gesê die polisie se ondersoek gaan voort. Die uitslag van die nadoodse ondersoek sal met die naasbestaandes gedeel word.
Friends and family paid their respects to Denneoord resident Zonita Basson (52) at a memorial service in the Dutch Reformed Church hall at Herold's Bay on Tuesday 10 December. Basson, widely known as Zoe, died on Tuesday evening, 3 December, when her vehicle went over the cliff into the sea at Voëlklip near Herold's Bay. No foul play is suspected.
Lees 'n vorige artikel: Nog 'n tragedie by Voëlklip
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'