GEORGE NUUS - Eden Lions en die Senior kuns- en kuiergroep het kragte saamgesnoer om 'n verskil te maak in die lewe van sowat 20 kleuters in Borcherds.
Terwyl die kunssinniges tans besig is om handgemaakte poppies en speelgoed te maak as deel van Kerspakkies vir die kleuters van Kekkel en Kraai-speelgroep, het Eden Lions hul gewig ingegooi met 'n groot skenking van klere, babaklere en bokse vol babapap om die nood te help verlig.
Die speelgroep, onder leiding van Jacoline Muller, bestaan al meer as 30 jaar. Muller vra slegs 'n klein bydrae vir haar sorg, maar baie ouers kan dit eenvoudig nie bekostig nie. "My hart lê by hierdie kinders," sê sy.
"Van die klere wat deur Eden Lions geskenk is kan Jacoline tuis aan haar gemeenskap verkoop om 'n bietjie ekstra inkomste te verdien," verduidelik Sue Smit van Eden Lions.
Die Lions het ook aangebied om te help met die samestelling van die Kerspakkies, wat vroeg in November aan die kinders uitgedeel sal word.
Michelle van Zyl (bestuurder van die Eden Lions se tweedehandse winkel), Jodi Reinstorf en Sue Smit van Eden Lions.
Enigeen wat graag 'n bydrae wil lewer - hetsy in die vorm van opvoedkundige speelgoed, lekkernye of ander klein geskenkies - kan Sue Smit kontak by 076 485 2198, of die Lions se winkel, Lion Around Clothing, besoek by Wellington-straat 3.
"Ons glo daaraan om ander verdien-stelike organisasies te ondersteun," sê Smit. "Ons winkel het ontstaan uit die nood tydens die Knysna-brande, en nou kan ons die gemeenskap verder dien."
Vir meer inligting oor die Senior kuns- en kuiergroep, of vir donasies van lap, wol en ander naaldwerkitems, kontak Adelina Coleman by 082 298 0362.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’