IN GESPREK MET REDAKTEUR, LIZETTE DA SILVA - Die moord op 'n jong onderwyser van Noordwes het skokgolwe deur die land gestuur en die fokus opnuut op geweld in skole geplaas. Gadimang Mokolobate (24) is na bewering in sy klas deur 'n leerder doodgesteek.
Plaaslik het 'n leerder 'n onderwyser na bewering in sy klaskamer by Van Kervel Skool met 'n beitel in die hand gesteek. Ek verneem ook dat 'n onderwyseres van 'n laerskool in George se motorruit uitgeslaan is deur 'n leerder nadat laasgenoemde se selfoon afgevat is en sy dit nie ná skool kon terugkry nie.
Hierdie is slegs enkele voorvalle waaroor daar in die afgelope paar weke in die media berig is. Wat van die voortdurende voorvalle wat ons onderwysers elke liewe dag in die gesig staar met dissiplinelose, respeklose leerders wat klasse ontwrig. Onderwysers is so besig om dissipline in die klas te probeer toepas, dat hul kernfunksie agterweë bly.
Die Onderwysersunie van Suid-Afrika het hom ook sterk uitgespreek oor die krisis in ons skole en gesê strenger sekuriteit is nodig en versoek dat ten minste twee polisielede by elke skool ontplooi word. Die onderwysvakbond Sadtu, beskryf ons skole as oorlogsones en het gevra die onderwysdepartement moet onmiddellik ingryp en onderwysers en leerders beskerm.
Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het Maandag met LUR'e vergader oor die voorvalle van geweld waar kommer hieroor uitgespreek is. Hulle vra vir nouer samewerking met die polisie, die gemeenskap en ouers. Maar wie se verantwoordelikheid is 'n kind se dissipline?
Dit begin mos by die huis?
In my ouerhuis is daar nie doekies omgedraai nie, jy as kind het jou plek geken. In my laerskooljare by Diepkloof Primêr waar my Ouma Gussie skoolgehou het, en daarna by Dellvillepark Primêr en in Queenstown in die Oos-Kaap is die fondasie van dissipline goed vasgelê. Ek was gereeld in die moeilikheid - nie oor ernstige dinge nie. Praat in die klas of 'n gegiggel, briefies skryf en aanstuur, onvoltooide huiswerk, maar nooit omdat ek nie respek gehad het vir my onderwyser of enige ouer persoon nie.
As jy uitgevang is, moes jy maar jou pak vat en dan - dan moes die briefie nog huis toe geneem word vir my ouers. So baie dae het ek sommer 'n dubbele dosis gekry. Ek sê dankie vir my onderwysers, ouers en familie wat ons as kinders respek en dissipline geleer het, soms met 'n goeie pakslae.
En nee, ek is nooit as kind deur enigiemand aangerand nie, ek het net my pak op my tyd gekry, "omdat ek ornaments vir ore gehad het" soos my ma sou sê.
Ons kon ook nie by die huis oor 'n onnie gaan kla nie. Daar is duidelik gemaak, "Ek wil niks klagtes van die onderwysers hoor nie. Jy is daar om te leer, niks anders nie." Vandag is dit 'n totale ander prentjie. Onderwysers staan magteloos voor oorvol klasse met sommige leerders sonder 'n greintjie dissipline of respek. Hulle weet onderwysers is magteloos en buit dit uit. En hulle is uiters bewus van hulle "regte", maar in die proses ly dié wat wil leer en gehoorsaam is daaronder. Wat van daardie leerders se regte? Wat van die onderwyser se regte?
Die onderwysdepartement beplan om binnekort 'n simposium te hou met die polisie en ouers oor die krisis in skole met die fokus op hoe om veiligheid in skole te bewerkstellig. Ek hoop alle ouers woon dit by, nie net dié van die gehoorsame kinders nie, almal. Dissipline begin mos by die huis, of hoe?
Daarby saam hoop ek dat ons onderwysers meer en beter ondersteuning van die onderwysdepartment sal kry en dat hulle en die ander leerders se regte en veiligheid, 'n prioriteit sal wees.
'n Lekker Erfenisdag vir al ons lesers!
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'