GEORGE NUUS - Die laaste paar dae het vurige gesprekke op sosiale media gevolg oor die lading passasiers in Go George-busse.
Die busdiens word beskuldig dat sosiale afstand tussen passasiers nie streng toegepas word nie. Van die passasiers voel hul veiligheid word in gedrang gebring en vra dat die vervoerdiens strenger sal optree en minder passasiers per rit vervoer.
Volgens James Robb, bestuurder van Go George, is daar egter tans geen beperkings op die hoeveelheid passassiers wat vervoer mag word nie.
Hy doen ‘n beroep op passassiers om nie die bus tydens spitstyd te gebruik indien dit nie dingend is nie, en vra dat mense verantwoordelikheid neem en hul maskers dra, die vensters oophou vir ventilasie en hul persoonlike afstand hou.
Lees gerus Robb se kommentaar op die volgende navrae:
Is daar tans ‘n beperking op die aantal passasiers wat vervoer mag word?
Die regering het alle beperkings ten opsigte van openbare vervoer opgehef op Vlak 1 van die nasionale inperking en Go George, soos alle openbare vervoerdienste in George, verskaf tans diens teen 100% kapasiteit.
Aangesien alle besighede en skole weer in bedryf is, sou dit onmoontlik wees om die passasiers wat afhanklik is van ons vervoer betyds by hul bestemmings te besorg indien die aantal toegelate passasiers op die busse verminder sou word.
Daarom doen ons voortdurend ‘n beroep op passasiers om nie gedurende spitstyd bus te ry nie, indien enigsins moontlik – laat daardie plekke beskikbaar vir mense wat op ‘n betaalde tyd by die werk of skool moet wees en beplan jou ritte buite spitstyd.
Voorts is die streng voldoening aan Covid-19-voorsorgmaatreëls van die uiterste belang en elke individu se verantwoordelikheid; hier vra ons mense wat van ons busdiens gebruik maak se samewerking, ter wille van hulself, medepassasiers en ons drywers. Dit is belangriker as ooit om na mekaar om te sien.
Indien wel, hoeveel passasiers mag vervoer word met ‘n minibus en ‘n standaard grootte bus?
Daar is nie tans ‘n beperking op kapasiteit nie, maar op 100% kapasiteit dra die minibusse 15 sittende passasiers of 13 sittende passasiers en een passasier in ‘n rolstoel; die midibus 40 sittende en 38 staande passasiers, en een passasier in ‘n rolstoel; die standaardbus 44 sittende en 40 staande passasiers, en twee passasiers in rolstoele.
Is daar genoeg busse en drywers om almal volgens skedule te help?
In hierdie stadium is daar nie ‘n probleem om by die skedule te hou nie, maar om dit vol te hou, het ons nodig dat ons busbestuurders beskerm word en gesond bly. In ‘n vroeër stadium van die pandemie kon ons nie by ons skedule hou nie omdat te veel busbestuurders in isolasie moes bly weens kollegas wat Covid-19 opgedoen het, of omdat etlike van hulle self die virus opgedoen het. Hierdie mense werk in die voorste linie en verdien om in ag geneem te word.
Wat is die probleme wat Go George ondervind in terme van die toepassing van Covid-maatreëls?
Ons drywers het opdrag om geen passasiers sonder maskers op die bus toe te laat nie. Die probleem kom in by passasiers wat hulle maskers nie reg gebruik sodat dit die mond én neus bedek nie, of wat dit afhaal of onder die gesig laat sak tydens die rit. Die drywer kan dit nie monitor en aanspreek terwyl sy aandag op die pad moet wees nie.
Dit sal ons geweldig baie help as passasiers mekaar onderling herinner om die regte ding te doen en mekaar se veiligheid in ag te neem. Dit gaan niks verbeter as hulle net op ons Facebook-blad kla daaroor nie – ons het nodig dat hulle daadwerklik optree daar waar hulle die oortreding opmerk.
Nog ‘n eenvoudige voorsorgmaatreël is oop vensters wat goeie ventilasie op die busse bewerkstellig. Die busse verlaat soggens die depot met oop vensters, maar passasiers is geneig om dit toe te maak as die windjie of koue lug pla.
Vars, bewegende lug in die bus verhoed dat besmette druppels in die lug bly hang en is uiters belangrik. Ons vra dat passasiers warm genoeg aantrek om die koel lug te trotseer – vir almal se veiligheid.
Dit bly die veiligste om alternatiewe reëlings te tref en nie openbare vervoer te gebruik vir nie-noodsaaklike ritte nie, maar diegene wat die bus móét gebruik - veral gedurende spitstyd wanneer die sitplekke almal beset word - moet groot sorg neem deur maskers te dra, hul hande te ontsmet wanneer hulle die bus binnegaan en hande te was nadat hulle op 'n bus gery het.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'