GEORGE NUUS - Die amptelike opening van 'n kantoor Saterdag vir die Conville-gemeenskapspo-lisiëringsforum by die Conville-polisiestasie was 'n geskiedkundige geleentheid.
Dit is die eerste GPF in George aan wie die polisiekantoor spasie beskikbaar stel.
'n Vertrek in die ou barakke net agter die polisiestasie is in 'n kantoor omskep. Kapt. Wayne Claassen, van Conville Sigbare Polisiëring, het gesê die kantoor bied 'n geleentheid aan die GPF om hul vrywillige dienste onbelemmerd te lewer.
Hy het die hoop uitgespreek dat dit 'n permanente instelling sal wees en dat die konsep na ander polisiestasies sal versprei as deel van die SAPD se vennootskappe met gemeenskapspolisiëringsforums en die gemeenskap.
Die geleentheid is bygewoon deur afgevaardigdes van die polisie, korrektiewe dienste se gemeenskapskorreksies-afdeling en plaaslike gemeenskapsorganisasies wat werk met slagoffers van misdaad en geweld, asook Brendan Adams, George se portefeuljeraadslid vir wetstoepassing. Legally You, Anointed Academy for Excellence Foundation en Team Strong het aan die verrigtinge deelgeneem.
Pastoor Christo Alexander, voorsitter van die GPF, het gesê die kantoor sal die forum se werk vergemaklik en dienslewering vergemaklik. Hy het samewerking tussen die GPF en polisie beklemtoon.
Hy het gesê die buurtwagte doen wonderlike werk, maar daar is baie uitdagings, waaronder 'n gebrek aan toerusting, waarvoor hulle borgskappe nodig het.
Adv. Marilyn Scheepers Olifant van Legally You het gesê die kantoor is 'n uitstekende inisiatief wat die gepaste hantering van slagoffers van geslagsgebaseerde geweld sal aanmoedig en sal help om 'n "tweede viktimisering" van die slagoffer uit te skakel.
Die aanwesiges by die opening van die Conville-GPF se kantoor. Voor links sit GPF-vooristter pastoor Chris Alexander en Rudy Lewis, voorsitter van die Conville-buurtwag.
Die polisie kan in die nabye toekoms uit munisipale geledere meer bystand verwag. Raadslid Adams het in sy toespraak gesê die wetstoepassingsbeamptes het opleiding as vredesbeamptes ontvang, wat wyer jurisdiksie aan hulle verleen sodat hulle die polisie meer effektief kan bystaan.
Sewentien nuwe poste vir wetstoepassingsbeamptes is ook geskep wat tans nog vakant is. Verder word 'n blitsreaksie-eenheid met verkeers- en wetstoepassingspersoneel op die been gebring om die polisie se hand te versterk.
Twee Nyalas word ook tans aangekoop, en wetstoepassing en verkeer se werkure gaan ook vermeerder sodat 'n 24-uur diens gelewer kan word.
Die GPF het hulle borge vir die funksie, Boeta's Liquor Store (vir koffie en tee), Bismillah Supermarket, Fred's Cash Stores en Fish Palace bedank.
Komiteelede van die Conville GPF, van links: Linda Smit (projekkoördineerder), Rudy Lewis (skakelbeampte), John Yoko (ondervoorsitter), Christo Alexander (voorsitter) en Ivan Speelman (addisionele lid). Foto: Alida de Beer
Adv. Marilyn Scheepers Olifant van Legally You aan die woord.
Raadslid Brendon Adams
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’