TUINROETE NUUS - Sake het oor die afgelope week merkbaar versleg, met ’n stygende olieprys en ’n verswakkende rand wat die druk op brandstofkoste en die breër ekonomie in die Tuinroete en regoor die land verder verhoog.
Dit hou groot implikasies vir boere, besighede en verbruikers in, sê die bekende ekonoom, Dawie Roodt.
Volgens hom het internasionale onsekerheid weens die konflik tussen die VSA en Iran die olieprys skerp laat styg.
“Hierdie konflik beteken dat brandstofpryse, insluitende petrol en diesel, waarskynlik verder gaan toeneem,” sê hy.
Die nuutste brandstofaanpassing het op Woensdag 4 Maart in werking getree: petrol het met 20c per liter gestyg, terwyl diesel tussen 62c en 65c per liter gestyg het.
Vroeë voorspellings wys dat verdere groot styginge in April moontlik is. Petrol kan met R2,60 tot R3,10 per liter styg, en diesel selfs meer.
Roodt waarsku ook dat die hoër olieprys insetkoste soos kunsmis opjaag, wat weer voedselpryse kan beïnvloed.
“Beleggers vlug na die Amerikaanse dollar in tye van onsekerheid, wat veroorsaak dat die rand verswak. ’n Swakker rand maak invoere duurder en plaas verdere druk op inflasie,” sê Roodt.
Hy sê dit maak die Reserwebank senuweeagtig en kan moontlik tot hoër rentekoerse lei, wat verbruikers se besteding en ekonomiese groei kan verminder.
Roodt beklemtoon: “Hoe langer die olieprys hoog bly, hoe groter word die probleem.”
Dawie Roodt
Brandstofpryse in Suid-Afrika word maandeliks aangepas, gewoonlik op die eerste Woensdag van elke maand, volgens ’n spesifieke formule wat grootliks afhanklik is van internasionale oliepryse en die rand/dollar-wisselkoers.
Hierdie aanpassings word deur die departement van minerale hulpbronne en energie bepaal.
Boere aan Tuinroete voel die pyn
Die styging in dieselpryse gaan ’n groot finansiële impak op boere hê, waarsku Henry Meyer, voorsitter van Agri Wes-Kaap.
“Vir ’n gemiddelde saaiboer wat sowat 1 000 hektaar bewerk, praat ons van 14 000 liter diesel net vir die plantproses. Teen die huidige prys van R18 per liter, beteken dit ’n uitgawe van ongeveer R252 000. Indien diesel met byvoorbeeld R6 per liter styg, wat die voorspelling is, kom daar ’n addisionele R84 000 by,” sê Meyer.
Hy sê dit is boonop ook net om die saad in die grond te kry. “Daarna volg bespuitings, verdere bewerkings en die oesproses. Teen die einde van die seisoen tel alles tot ’n enorme bedrag op.”
Ook die melk- en groentebedryf sal geraak word.
“Vervoer van melk, kunsmis en voer gaan duurder word, en dit druk die hele waardeketting op. Boere is bekommerd oor beskikbaarheid en koste van kunsmis. Sommige oorweeg om ekstra diesel aan te koop, maar wetlike beperkings op stoorplek en hoeveelhede maak dit ingewikkeld.”
Sakeondernemings aan Tuinroete onder druk
Die styging in brandstofpryse raak ook die plaaslike sakeondernemings. Johannes Jumat, voorsitter van die George-sakekamer, sê die konflik in die Midde-Ooste begin reeds merkbare impak hê.
“Die effek is duidelik: bedryfskostes styg drasties, veral in sektore soos logistiek. Dit kan groei en beleggings belemmer.”
Hy waarsku ook oor die risiko van brandstoftekorte indien die oorlog voortduur.
“Suid-Afrika se voorrade is beperk en alternatiewe moet oorweeg word. Indirek gaan verbruikers die prys betaal, wat druk op middelklas en laerinkomste plaas.”
Daarby word die situasie volgens Jumat verder bemoeilik deur stygende elektrisiteitskoste na die onlangse goedkeuring deur die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa).
“’n Uitdagende tydperk lê vir plaaslike besighede voor. Ons hoop dat owerhede en die privaat sektor maatreëls kan tref om die impak van die krisis so lank as moontlik te absorbeer.”
Johannes Jumat
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’