GEORGE NUUS - Die man wat in hegtenis geneem is ná 'n gru-ongeluk in Beachweg twee weke gelede is Woensdag 28 Oktober, op borgtog van R1 000 en baie streng voorwaardes vrygelaat.
Ridewaan Hendricks (24) se borgtog-voorwaardes sluit huisarres in en hy mag glad nie bestuur nie.
Hendricks staar twee aanklagte van strafbare manslag in die gesig, sowel as een van dronkbestuur, ná Nicolene Scheepers (40) van Pacaltsdorp en Ismail Fernol (45) in die vroeë oggendure op Saterdag 10 Oktober in die ongeluk oorlede is.
Scheepers en Fernol is op die toneel oorlede toe 'n donkerkleurige Polo, waarvan Hendricks glo die bestuurder was, in hulle Toyota Tazz vasgejaag het. Hendricks was nie op die toneel met die polisie se aankoms nie.
Hendricks, met ten minste nog een hangende saak van dronkbestuur teen hom, was sedert sy inhegtenisname later daardie aand in aanhouding.
Die saak dien voor landdros Carmen Wyngaardt, aanklaer Charlene Williams is vir die staat en Hendricks word deur Winston Jansen van Winston Jansen Prokureurs verteenwoordig.
Vorige artikels:
- Man kry borgtog na gru-ongeluk
- 'Net sy straf sal ons vrede bring'
- Twee sterf in ongeluk in Pacaltsdorp
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'