GEORGE NUUS - Groot besighede, veral in vervaardiging, moet dringend 'n belegging in alternatiewe kragopwekking maak, want daar is nie 'n onmiddellike oplossing vir beurtkrag nie, waarsku dr. Willie Cilliers, voorsitter van die AHi en George-sakekamer.
Cilliers het gesê beurtkrag het 'n geweldige impak en baie kleinsakeondernemings kan nie alternatiewe kragopwekking bekostig nie.
"Besighede wat dit deur die pandemie gemaak het, het net begin herstel, toe kom 'n skerp petrolprys- en 'n rentekoersverhoging. Vandag (Woensdag 21 September) word die rentekoers heel waarskynlik weer opwaarts aangepas.
"Boonop moet besighede rekening hou met 'n inflasiekoers van byna 8%. Te midde van al hierdie druk, plaas Eskom se beurtkrag die kersie op die koek. Dit maak dit vir baie kleinbesighede bykans onmoontlik om te oorleef."
Hy sê groot ondernemings wat kragopwekking self wil doen, moet langtermyn dink en eerder in sonkrag belê.
"Dit is tans die mees ekonomiese metode. Die dieselverbruik van 'n kragopwekker is uiters duur. Deur kragopwekkingsinstallasies so te doen dat oortollige opwekking in die netwerk teruggesit kan word, kan die finansiering daarvan gedelg word.
Haarkappery erg geraak
Volgens Jolene Lindsay, eienaar van House of Hair, word haar besigheid erg geraak. "Wanneer daar 'n twee ure onderbreking is, bly ons geiser nog warm en kan ons hare kleur en was, maar ons kan nie droogmaak nie. Die meeste kliënte wil nie met nat hare uitstap nie en sal kanselleer as daar beurtkrag is.
"Wanneer dit vir vier ure duur, soos vandag, hoop ek maar die geiser sal nog warm bly. Wanneer ek 'n behandeling doen om hare reguit te maak, neem dit my twee tot twee en 'n halwe uur, so ek moet dit mooi skeduleer tussen kragonderbrekings deur. Wanneer so 'n kliënt haar afspraak kanselleer, is dit 'n verlies van R1 500."
Lindsay sê 'n kragopwekker sal nie lonend wees nie. "Ons is vyf mense wat haardroërs gebruik. Saam met die geiser en ander apparate wat krag benodig, sal dit 'n groot kragopwekker moet wees. Met die koste van die diesel bygereken, regverdig dit nie so 'n uitgawe nie."
Dr. Callie Cronjé, 'n plaaslike tandarts, sê sy kragopwekker kos hom gemiddeld R350 per dag. "Maar ten minste kan ek werk."
Geweldige druk op watersuiwering, rioolstelsel
George-munisipaliteit se kommunikasiehoof, Chantel Edwards-Klose, het gesê beurtkrag plaas geweldige druk op rioolpompstasies en die watersuiweringswerke. "Die tradisionele stoorkapasiteit is nie voldoende om vir lang beurtkragsessies voorsiening te maak nie. Samewerking van Georgiete is nodig om water spaarsamig te gebruik tydens lang onderbrekings."
Die tenderproses vir die aankoop en installasie van twee 1 100kVA kragopwekkers by die Tuinroetedam se rouwaterpompstasie het onlangs gesluit en word tans geëvalueer.
"Die installasie sal beteken dat die pomp van rou water na die watersuiweringswerke kan voortgaan gedurende beurtkrag of ander kragonderbrekings om drinkwater te voorsien."
Dertien grootmaatkragopwekkers is op kritieke plekke by munisipale infrastruktuur geïnstalleer, onder meer by hoërisiko rioolpompstasies asook by die ou en nuwe watersuiweringswerke.
Daar is ook batteryeenhede aangebring by 57 verkeersligte wat vir ongeveer vier ure kan hou tydens 'n kragonderbreking.
Deeglike noodplan vir Wes-Kaap
Premier Alan Winde het ná 'n dringende kabinetsvergadering op Sondag 18 September oor die kragvoorsieningskrisis gesê die Wes-Kaapse regering (WKR) het 'n deeglike noodplan in plek.
Beplanning is gedoen vir verskeie scenario's en planne word voortdurend opgedateer, sou die situasie sou versleg.
Hy het die publiek gevra om kragverbruik te verminder om druk op die netwerk te verminder. Die provinsie kyk indringend na kort-, medium- en langtermyningryping om oplossings vir die krisis te vind.
Die Wes-Kaap sal Eskom help waar hy kan en is in kontak met die uitvoerende hoof, André de Ruyter, om op die hoogte van die situasie te bly.
De Ruyter het vroeër vanjaar gesê Suid-Afrika se kragverskaffingsindustrie benodig R1,2 triljoen se nuwe investering teen 2035.
Die nasionale Departement van Openbare Ondernemings het verlede week aangekondig dat 1 000 megawatt van onafhanklike kragverskaffers verkry sal word as 'n onmiddellike ingryping.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'