Update
GEORGE NUUS - Twee en 'n half jaar ná die dood van Aulin Powell (21) is die beskuldigde, Padan Syster, gevonnis.
Powell is op Woensdagaand, 5 Januarie 2022, oorlede toe hy in Knysnaweg op sy motorfiets deur 'n Toyota Hilux-bakkie by die verkeerslig na Le Vallia getref is. Hy was op pad huis toe van Wildernis af.
Die bestuurder van die bakkie, wat uit die rigting van die middedorp gery het, het na Le Vallia afgedraai toe hy Powell tref. Powell is deur paramedici op die toneel dood verklaar en Syster is van strafbare manslag aangekla.
Die woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, Eric Ntabazalila, het by navraag gesê die hof het die aanbevelings van die korrektiewe toesigverslag gevolg. Syster is tot twee jaar korrektiewe toesig gevonnis. Sy vonnis is opgeskort vir ses maande.
"Die hof het verder aangedui dat hoewel die beskuldigde nie grof nalatig was nie, sy gebrek aan oordeel daardie dag lewensverlies veroorsaak het en korrektiewe toesig 'n sterk vonnis is. Indien die beskuldigde versuim om aan die voorwaardes te voldoen, kan die staat aansoek doen om 'n omskakeling van sy vonnis," sê Ntabazalila.
Familie nie tevrede met vonnis
Powell se familie voel Syster se straf kon swaarder gewees het. "As familie voel ons hy moes die maksimum straf van drie jaar tronkstraf, gekry het. Ons voel dis nie baie gevra nie. Ons is reeds deur meer as twee jaar sonder Aulin. Ná drie jaar kan hy [Syster] aangaan met sy lewe. Hy kan studeer, sy familie kan hom sien en hom gelukwens met versjaarsdae.
"Ons gaan nooit weer met Aulin kan praat nie. Aulin sal nie weer kan gaan studeer of aangaan met sy lewe nie," het Powell se suster, Marochel Cronjé gesê.
Vorige artikel: Jong lewe tragies kortgeknip
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’