Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Die George Ratepayers Association (GRPA) gaan beslis nie aan aanstaande jaar se munisipale verkiesing deelneem nie. Die organisasie gaan ook nie 'n bepaalde politieke party steun nie.
Dit is die boodskap van Juan Barnard wat onlangs as die voorsitter tydens 'n formele stigtingsvergadering verkies is. Die organisasie het in die verlede bestaan en het selfs 'n verteenwoordiger in die George-stadsraad gehad, maar het later doodgeloop.
Die stigtingsvergadering wat op 9 Maart gehou is, is deur 108 mense bygewoon.
Barnard, bygestaan deur Dirk Stander, die tesourier, het in openhartige gesprek gepraat oor die pad vorentoe.
Barnard het gesê dis besorgde inwoners wat betrokke is. Daar is verskeie professionele mense betrokke soos ouditeure en regslui. Daar is ook sakeleiers betrokke.
Die stigtingsvergadering is die uitvloeisel van 'n werkgroep wat in November verlede jaar gevorm is. Die groep het gekyk na die moontlike herstel van die organisasie. Wat die formele stigting aangespoor het, was die vraag oor volhoubare ontwikkeling in George.
Daar is onder meer kommer uitgespreek oor die kragsituasie in George, volhoubare waterkwaliteit en dat George te veel van sy glans verloor deur nuwe ontwikkelings.
Hy het benadruk, die organisasie is nie teen ontwikkeling nie. Die vraag is net hoe dit plaasvind. Volhoubare ontwikkeling en infrastruktuur soos elektrisiteit- en watergeriewe is belangrik.
Dis 'n organisasie wat alle inwoners beskerm. Ras en politieke oortuiging speel nie 'n rol nie. Enigiemand wat op datum is met sy/haar munisipale belasting kan aansluit. In die stadium is dit gratis.
Dis 'n drukgroep, maar nie 'n klagte-kantoor nie. Die regte prosesse oor klagtes moet gevolg word. Sy belewenis is dat die George-munisipaliteit die regte prosesse in die verband in plek het. In die algemeen is hulle toeganklik.
In die stadium is die eerste groot prioriteit om te kyk na die munisipale eiendomswaardasies.
VIDEO: Belastingbetalers maak stem dik
Onder die ander prioriteite is:
- Verhoudinge bou met leiers van alle politieke partye,
- Verhoudinge bou met administratiewe personeel,
- Ontmoetings met ander belastingbetalers organisasies en
- Opvoeding en bewusmaking van die publiek oor hul werksaamhede
Die nuwe bestuur is:
- Voorsitter: Juan Barnard
- Visevoorsitter: Johan Steyn
- Tesourier: Dirk Stander
- Sekretaresse: Ingrid van Wyk
- Addisionele lede: Jacques Wessels, Barend Janse van Rensburg en Joan Steenkamp.
Quintus Neethling is ook gekoöpteer om te help met die eiendomswaardasies.
Meer inligting
Mense wat meer inligting wil hê kan 'n e-pos stuur aan: george.rpa.sa@gmail.com.
Leon van Wyk, George se burgemeester, het by navraag gesê die stadsraad\munisipaliteit is altyd gewillig om saam met belastingbetalersorganisasies te werk
Die veronderstelling is dat hulle a-polities is. Oor die jare is goeie verhoudinge met sulke organisasies opgebou. "Hulle het 'n belangrike rol om te speel." Volgens Van Wyk sien hy daarna uit om saam met die nuutgestigte organisasie te werk.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'