GEORGE NUUS - 'n Inwoner van Wilderness Schönrad Stander (63), het tydens die Covid-inperking as 'n skrywer ontpop. Haar lewens-ervarings as ma van twee seuns en hoërskoolonderwyser, en verskeie oorsese reise het genoeg inspirerende materiaal verskaf vir haar eerste digbundel en twee liefdesromans.
Sy het die drie boeke Vrydagaand tydens 'n geselligheid by Cornerstone Creek in Hoekwil bekendgestel.
Stander, wat afgetree is, het 'n paar jaar gelede in die Verenigde Arabiese Emirate, Iran en Taiwan Engels gedoseer.
Tussen die klasgee deur het sy rugsaktoere deur dele van Europa onderneem en haar belewenisse en spesiale oomblikke neergeskryf. Toe die inperking verlede jaar ingestel is, het sy besluit dis 'n goeie tyd om ernstig te begin skryf.
"Ek geniet dit verskriklik. Ek het eintlik my hele lewe lank nog die behoefte gehad om te skryf," het sy vertel.
Sy het 'n digbundel, Granaat en twee romans, Tinka se reis na Parys en Swanevlug, voltooi.
Sy noem haar gedigte "sielsreise" wat haar lewenservarings oor die jare vasvang. Sy het 'n paar gedigte oor haar seuns geskryf waarvan een, Banneling, handel oor haar oudste wat nie in Suid-Afrika kon werk kry nie.
Haar gedigte vertel stories, soos die een oor haar graad 1-juffrou, 'n 80-plusser wat nou nog by haar kom kuier wanneer sy George toe kom.
Vyf van haar gedigte is deur na die finaal van 'n nasionale kompetisie van die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans. Die wenner word volgende jaar by 'n gala-geleentheid in Pretoria aangekondig. Twee gedigte is opgeneem in die bloemlesing, Inspraak 2, wat deur 'Ink' uitgegee word.
"Die countrysanger Clive Bruce het van my gedigte getoonset wat nou op die aanlynmusiekkanaal, Buymusic, beskikbaar is onder die naam Kardoesie Liedjies," het sy vertel.
Sy is 'n hopelose romantikus. "My romans is skoon liefdesverhale met drama, humor en 'n tikkie van die magiese. Ek wil hê dit moet mense oplig."
Tinka se reis na Parys was 'n uitvloeisel uit haar besoek aan Parys, "die mees romantiese stad wat daar is", vertel sy. "Dit is ook geïnspireer deur Danie Niehaus se lied, Parys in die somer. Ek het sy toestemming gevra om die lirieke in die boek te gebruik."
Dit vertel die verhaal van Tinka, 'n kunstenares wat besluit om na 'n liefdesteleurstelling in Parys te gaan vakansie hou.
Haar besoek lewer baie meer op as waarop sy voorbereid was met opwindende belewenisse wat 'n aantreklike man en 'n misterieuse skilder insluit.
Schönrad Stander (regs) tydens die bekendstelling saam met haar ma, Rina Stander en twee susters, Melanie Theron (naaslinks) en Karin Roodman. Foto: Alida de Beer
In Swanevlug probeer 'n jong meisie, Helga, ontsnap aan die gevreesde lot van talle ander meisies in 'n weeshuis wat onder die dekmantel van aanneming deur oorsese ouers, seksslawe word vir hoë amptenare. "Dit is vol drama, liefde en humor."
Stander het vertel die skryfproses is vir haar maklik. "Ek skryf aan twee of drie boeke op 'n slag. Wanneer ek op 'n idee kom en ek gaan sit, kom die storie net. Ek moet dadelik begin skryf anders vergeet ek.
"My lewensmaat, Mario, het besef hy moet maar begin om take soos kook oor te neem anders gaan hy nie kos kry nie. Hy is die geduldigste man wat daar is en ek kry baie onderskraging van hom af."
Sy het reeds weer 'n paar idees en hoop om binnekort nog 'n boek te voltooi.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'