GEORGE NUUS - Die ACVV van George het 'n klagte by die polisie ingedien teen die Jaftha-stigting nadat laasgenoemde 'n geldinsamelingspoging in die naam van die Rooibootjie-kleuterskool begin het.
Die kleuterskool, geleë in Syferfontein, Pacaltsdorp, het op 10 Desember sy deure permanent gesluit.
Volgens die voorsitter van die ACVV, Rina de Swardt, was dit nie meer finansieel haalbaar om die skool te bedryf nie. In haar polisieverklaring het sy gesê die naam 'Die Rooibootjie' behoort aan die ACVV George-tak en die skool word gederegistreer in die naam van dié tak.
Die kleuterskool is op 'n munisipale perseel geleë wat die ACVV van die George-munisipaliteit gehuur het.
Volgens 'n verklaring wat De Swardt by die polisie ingedien het, het sy op 17 Desember 'n foto van 'n plakkaat van die Jaftha-stigting op Whatsapp gesien waarop donasies in die naam van Rooibootjie-kleuterskool gevra word om dit oop te hou.
Errol Jaftha van die Jaftha-stigting, 'n geregistreerde nie-winsgewende organisasie, het in 'n e-pos aan George Herald gesê hulle is genader om te help om die skool oop te hou. Drie onderwysers is weens die sluiting afgelê en 63 kinders sal van volgende jaar af nie 'n veilige plek gedurende die dag hê om heen te gaan nie.
Volgens Jaftha het hy 'n vergadering hieroor met De Swardt en die ACVV se bestuurder, Charlene van Wyk gehad waarvan die uitkoms positief was en waarin hulle hul ondersteuning laat blyk het. Hy beskuldig die ACVV nou egter daarvan dat hulle die perseel "gestroop" het van alle infrastruktuur en toerusting.
"Die Rooibootjie is 20 jaar terug deur mev. Mel Walton gestig vir die Syferfonteingemeenskap. Die skool is deur verskeie donateurs befonds omdat dit 'n gemeenskapsprojek was in 'n armoedige woongebied."
Hy sê die stigting het reeds 'n huurkontrak met die munisipaliteit onderteken om die huur van die kleuterskoolperseel vir volgende jaar oor te neem.
"Die Jaftha-stigting probeer nou om eerlike geld in te samel vir 'n heining, klaskamers, klimrame, skryfbehoeftes en kos - alles wat die 63 kinders nodig sal hê om volgende jaar terug by die skool te kan wees. Rooibootjie is nie die intellektuele eiendom van die ACVV nie. Ons sit met 'n krisis met 63 kinders wie se reg tot opvoeding en veiligheid weggeneem is. Die Jaftha-stigting neem volle verantwoordelikheid om hierdie kinders en onderwysers te help om die skool weer ten volle te laat funksioneer."
Die ACVV het die infrastruktuur van die perseel af verwyder.
De Swardt het bevestig dat Jaftha by die ACVV-kantoor was en gesprek gevoer het oor die voortbestaan van die skool. "Ons het bevestig dat ACVV reeds die besluit geneem het om nie voort te gaan met die skool nie. Sou die Jaftha-stigting belangstel om die eiendom oor te koop en die huurkontrak met die munisipaliteit oor te neem, sou ons bereid wees om 'n transaksie aan te gaan. Mnr. Jaftha het egter namens die Jaftha-stigting die oorkoop van die bates van die hand gewys."Sy sê
Jaftha kan nie die Rooibootjie "heropen" nie, maar moet 'n nuwe skool registreer.
"ACVV George gaan nie verdere kommentaar lewer op mnr. Jafta se korrespondensie en ongegronde aantygings nie. Indien hy met 'n soortgelyke projek in die betrokke area wil voortgaan, wens die ACVV hom alles van die beste toe."
Walton het by navraag gesê sy het die kleuterskool met behulp van vriende se donasies op die been gebring en ongeveer vyf jaar later van 'n uitdagende tyd het die ACVV dit oorgeneem. "Hulle het 'n uitstekende taak daarvan gemaak en 'n wonderlike program aangebied. Hulle het werklik gedoen wat hulle kon, en niemand kan hulle blameer dat hulle die skool sluit nie."
Volgens De Swardt het die ACVV se bestuur in Augustus finaal besluit om Rooibootjie te sluit. "Dit was 'n baie moeilike en hartseer besluit. Al die nodige en korrekte prosesse is gevolg."
Syferfontein is 'n informele nedersetting wat deur die munisipaliteit verskuif word na 'n nuwe area wat formele behuising bied.
"Die verskuiwing van heelwat kinders saam met hulle ouers na die nuwe uitbreiding het veroorsaak dat die getalle drasties gedaal het en dit het verminderde subsidies (van die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling) tot gevolg gehad. Dit was nie meer ekonomies volhoubaar nie.
"Voortdurende vandalisme, inbrake en diefstal het ook plaasgevind. Veiligheidswagte moes dus aangewend word, wat die projek nog meer onbekostigbaar gemaak het. Vier personeellede was in diens wat salarisse moes ontvang ten spyte van die voorgenoemde.
"Ons vind dit vreemd dat die Jafta-stigting nou veg vir Rooibootjie se heropening, maar geen hulp en ondersteuning aan die ACVV verleen het deur al die moeilike tye en al die vele uitdagings waarmee ons moes worstel nie."
De Swardt sê die infrastruktuur wat hulle daargestel het, insluitend die heining en vraghouers waarin die klaskamers was, is die ACVV se eiendom en gaan elders aangewend word. Die volledig toegeruste vraghouers is in 2013 deur die Lotery geskenk en volgens die ACVV se ooreenkoms met die Lotery mag hulle dit ná die verloop van vyf jaar na goeddunke aanwend.
"Die Wendyhuise wat geskenk is, gaan ons ook weer gebruik. Die organisasies wat dit geskenk het, bestaan nie eers meer nie."
Een van die vraghouers wat as klaskamer gedien het.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'