Breaking News
GEORGE NUUS - Vyf skole in George - Hoërskool George, York High, Tyholora Primêr, Mzoxolo Primêr en Conville Primêr - is sover deur positiewe Covid-19-gevalle geraak.
Hoërskool George was Maandag en Dinsdag gesluit en leerders kon weer Woensdag (vandag) terugkeer.
Tyholora Primêr sou Maandag oop wees vir leerders, maar bekommerde ouers het Maandag besluit om hul kinders huis toe te neem.
Nog 'n bekommerde ouer het George Herald genader na hulle gesien het Mzoxolo Primêr is gedurende die naweek ontsmet, maar daar is geen kennisgewing aan ouers uitgestuur nie. Ouers het vanoggend, Woensdag 17 Junie, by die skool opgedaag om hul kinders huis toe te neem.
Die hoof het aan bekommerde ouers erken dat 'n onderwyser positief getoets het, maar dat hy moet wag vir die departement van onderwys, voor hy die skool kan sluit.
Dit het ook aan die lig gekom dat 'n onderwyser van Conville Primêr positief getoets het en die skool wag ook vir toestemming om te sluit.
Ouers van York High het Dinsdagaand 'n kennisgewing gekry dat 'n leerder positief getoets het, en in selfisolasie is. Al die ander leerders wat in kontak met die persoon was, is ook gevra om in selfisolasie by die huis te wees.
'n Boodskap wat Vrydag deur Hoërskool George se skoolhoof, Morton van Rooyen, aan ouers gestuur is, is ook aan George Herald gestuur. Die skool het toestemming van die hoof van onderwys, Brian Schreuder, gekry om Maandag die skool te sluit sodat dit ontsmet kan word. Daar is ook bevestig dat almal wat in noue kontak met die leerder was, gekontak is om te selfisoleer.
Hoërskool George word ontsmet.
Die skool se hoofseun, Ehsanul-Lee Booysen, sê dis met groot hartseer dat hy kan bevestig dat een van hul matrikulante Vrydag 12 Junie positief getoets het vir die Covid-19-virus.
"Dit was vir ons almal 'n groot skok. Dit het baie rooi ligte in ons koppe laat afgaan, maar daar is geen rede om paniekerig te raak nie. Ek kan bevestig dat die skool op Maandag 15 Junie ontsmet is en dat die geboue weer skoon is."
Hy doen 'n beroep op sy medematrikulante om te alle tye hul maskers te dra, sosiale afstand te handhaaf en gereeld hande te was of te ontsmet. "As ons almal hierdie nuwe regulasies nakom, kan ons help om die virus te bekamp. Ouers en leerders, wees verseker dat die korrekte stappe geneem was. Dra jou masker en handhaaf sosiale afstand."
Bronagh Hammond die kommunikasiebestuurder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) sê Hoërskool George sou Maandag 15 Junie gesluit wees sodat skool ontsmet kon word. Sy sê dit sou weer Woensdag oop wees vir leerders. Hammond het ook bevestig dat Tyholora Primêr in Thembalethu, Vrydag gesluit is om te ontsmet.
Sy sê die departement mag nie besonderhede uitgee oor individuele gevalle nie, slegs dat 'n skool toe is en wanneer dit weer oop gaan wees.
Ook die toilette is deeglik ontsmet.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'