GEORGE NUUS - Die bevinding van 'n bouinspekteur dat die swak toestand van huise in die Rosedale-behuisingsprojek te wyte is aan inwoners se versuim om onderhoud te doen, is met uiterste ontevredenheid in die gemeenskap ontvang.
Dit het 'n groepie van 12 vroue van hier genoop om op 21 Augustus persoonlik op te ruk na die provinsiale minister, Bonginkosi Madikizela, se kantoor in Kaapstad om hulle ontevredenheid oor die kwessie persoonlik te gaan oordra. 'n Aantal amptenare het hulle daar te woord gestaan.
Die gemeenskap sit al geruime tyd druk op die departement van menslike nedersettings om iets daadwerklik te doen aan krake en vog in die mure, plafonne wat lostrek, dun dakbalke, teëls wat losgaan, en ander defekte in die huise wat in 2012 voltooi is.
Vroeër vanjaar is daar op inwoners se aandrang 'n deur-tot-deur ondersoek van stapel gestuur. In die verslag wat daaruit voortgespruit het, skryf 'n bouinspekteur van die departement die defekte toe aan die eienaars wat nie hul eiendomme behoorlik onderhou nie. Clara Afrika, voorsitter van die Rosedale-inwonerskomitee, verskil hewig hiervan.
Sy sê die huise is nog maar enkele jare oud en die probleme het begin kop uitsteek kort nadat mense daar begin woon het.
Afrika is ontevrede met hoe die ondersoek uitgevoer is. Sy sê dat sy self gesien het hoe 'n inspekteur nie van naderby inspeksies gedoen het nie, maar net om die huise gestap het. Die departement ontken dat die inspeksie halfgebak was.
Krake soos hierdie maak Rosedalers warm onder die kraag.
'n Woordvoerder, Muneera Allie, het gesê vier "ten volle gekwalifiseerde inspekteurs" van die departement het aan die inspeksie deelgeneem. "Sommige huise kon nie nagegaan word nie omdat die inwoners nie tuis was nie."
Die departement het wel ná die Augustus-vergadering in die Kaap onderneem om 'n onafhanklike ingenieur aan te stel om die klagtes opnuut te ondersoek.
"Die departement is besig met die aanstelling, maar is verplig om alle voorsieningsketting-prosesse vir verkryging te volg. Die ingenieur sal aangestel word sodra dit voltooi is," het Allie gesê.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'