LIFESTYLE NUUS - Presies net soos mense, kan honde ook spanning, angs en vrees ervaar.
Die enigste probleem is dat hulle dit nie vir ons kan sê nie, of kan hulle?
Honde kan wel nie ons taal praat nie, maar daar is maniere om te sien of daar fout is.
Honde gebruik hulle lywe om mee te kommunikeer en as jy weet waarvoor om te kyk, kan baie probleme verhoed word.
"Ek weet nie wat met my hond aangaan nie, hy het nog nooit iemand gebyt nie, maar het my kind op sy neus gebyt en dit is ons eie hond." Klink dit bekend?
Alhoewel ek nie sal ingaan op moontlike oorsake van hoekom dit gebeur het nie (daar kan baie redes wees) sal ek probeer verduidelik hoe dit moontlik verhoed kon word.
Voor 'n hond byt, is daar 'n hele paar waarskuwingstekens, hier is 'n paar om voor te kyk. (Let wel dit hoef net een teken te wees of almal afhangende van die hond)
- Kyk na sy oë. Hy sal ongemaklik lyk en sy kop wegdraai van wie hom pla, maar sy oë sal groot wees en jy sal die wit om sy oë kan sien. Dit word "whale eye" genoem.
- Hy kan homself klein probeer maak, krom rug met sy stert styf tussen sy bene. Indien jy dit sien moenie net na die hond loop nie, wag tot hy jou benader.
- Jy sal sien hy lyk bang en lek sy lippe, hy kan ook lyk of hy aanmekaar gaap. Gee hom spasie.
- Hare wat opstaan om sy nek is 'n teken dat hy ongelukkig is met die situasie.
- Waaiende stert. Hoeveel keer het jy al gehoor "my hond het sy stert gewaai net voor hy my gebyt het". 'n Gelukkige hond sal sy stert waai en sy hele agterstewe sal saam beweeg. As sy stert hoog waai en dit vinnig heen en weer swaai, kan dit 'n teken wees dat hy ongelukkig is. Hy sal gewoonlik knor terwyl hy sy stert op so manier waai.
- Knor en tande wys. Nou is ons in die laaste fase voor 'n byt. Die hond sal styf staan, sy lippe optrek en sy tande wys terwyl hy knor. Gee hom spasie en afstand.
Om 'n hond te straf deur te slaan vir hierdie gedrag sal vrugteloos wees, en kan die gedrag selfs vererger.
Al hierdie tekens is die van 'n hond wat bang is en/of angs beleef, so respekteer dit.
As jy al hierdie tekens, of selfs van hulle sien, en net ignoreer, is die hond nie te blameer nie.
Hy het op al sy moontlike maniere probeer kommunikeer.
Vir meer oor honde lyftaal stuur 'n e-pos na george@rehabdogworks.com.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'