GEORGE NUUS - Dit is 'n bestaande feit dat kultuurerfenis in baie gevalle gebuk gaan onder die doelbewuste vernietiging deur mense wat van beter behoort te weet of totaal onkundig is, sê dr. Andy Lamont, voorsitter van die George Erfenistrust.
Volgens Lamont, wat ook die eerste uitvoerende burgemeester van die destydse Eden-distriksmunisipaliteit was, is daar voldoende wetgewing, maar dit word veral nie deur sommige plaaslike owerhede benut nie.
Hy voel baie sterk dat George se boomerfenis aandag moet kry. Hy is veral bekommerd oor die impak van die onlangse skade wat die stompkopkewer (euwallacea nr. fornicates) en sy simbiotiese swam (fusarium euwallacea) aan bome in George en die Tuinroete aangerig het.
Eugene Gunning het met hom gesels op die vooraand van Erfenisdag op Maandag 24 September.
Hoe verstaan jy erfenis?
Ons natuurlike erfenis sluit in ons omgewing, alle natuurlike hulpbronne en ook dit wat gevorm is as gevolg van kreatiwiteit en mense se leefwyse. Daar is baie diere en plante wat in die gevaar van uitwissing is.
Toe Erfenisdag deur wyle pres. Nelson Mandela in 1996 ingestel is, het hy dit gesien as 'n krag vir nasiebou. In 2007 het aartsbiskop Desmond Tutu, na 'n inisiatief van Jan Scannell, ook bekend as 'Jan Braai' die nasionale woordvoerder van Braaidag (24 September) geword.
Ten spyte van al die sentimente rondom 24 September elke jaar, is dit wat die meeste mense op daardie dag doen. Niemand werk nie en Braaidag laat mense dink aan al die bronne wat ons benodig om 'n vuurtjie aan die gang te kry. Bome vorm natuurlik 'n groot deel van ons natuurlike erfenis.
Is daar voldoende wetgewing om ons kultuurerfenis te bevorder?
Daar is verskeie wette in plek. Dit sluit in:
- Die wet op Nasionale Erfenishulpbronne wet nr. 25 van 1999;
- Die Nasionale Omgewingsbestuurswet nr. 73 van 1989 en
- Die wet op die Nasionale Erfenisraad wet nr. 11 van 1999.
In geval van enigiets van erfenisbelang wat nie amptelik verklaar is nie (op plaaslike owerheidsvlak) moet dit op die Erfenisregister geplaas word.
Wat sou u sê is die vernaamste doelwitte van erfenisbestuur?
Daar is verskeie. Dit sluit in:
- Plaaslike owerhede is verplig om 'n inventaris van alle erfenishulpbronne saam te stel;
- Die bewaring en beskerming van erfenishulpbronne;
- Seker te maak dat bewaring en ontwikkeling met mekaar versoen en
- Bewusmaking van gemeenskappe ten opsigte van erfenishulpbronne.
Hoe sterk voel jy oor bome?
Die Suid-Kaap/Tuinroete is 'n boom- en plantrykgebied en dit verwys glad nie na die braaihout nie. Inteendeel dit gaan oor bome wat baie ouer as baie van ons is. Ek dink aan boomerfenis in die jurisdiksie van die George-munisipaliteit.
In Pacaltsdorp het ons die Boom van Samekoms. Die groot Kaapse essenhout (ekebrgia capensis) is meer as 200 jaar oud en was 15,3 meter hoog toe die laaste tak in 2016 geval het. 'n Pragtige nuwe spruit is tans besig om weer die lig te sien. Die boom staan op die kruin van Sandkop en was die tradisionele vergaderplek vir die plaaslike gemeenskap onder die hoofman van Hoogekraal.
Kan jy jouself indink hoe die strate en gebiede sonder bome sal lyk?
Toe die eerste kapel in 1816 gebou is het eerw. Carl Pacalt sy vergaderings, preke en skool onder die boom gehou. 'n Beeshoring wat deur 'n vrou geblaas is, het die gemeenskap byeen geroep. Interessant is dat die plaaslike toerismekantoor naby aan die boom opgerig is. Die eerste toerismekantoor -inligtingsentrum - word huidig deur die senior burgergroepe gebruik.
Wat sou u sê doen bome aan 'n omgewing?
Behalwe dat dit 'n sieraad is vir die omgewing, verskaf dit ook karakter. Koms ons kyk na die strate in George. Die majestueuse Akkerbome is lank voor ons tyd geplant. Die Kaapse Geelhoutbome in Yorkstraat is in die vroeë sestigerjare geplant. Die sypaadjie en spasies voor geboue in Yorkstaat is spesiaal.
As ons dink aan die gebruike van tegnologie hoop ek nie dat die stadsvaders ooit die karakter van Yorkstraat sal versteur nie. Kan jy jouself indink hoe die strate en gebiede sonder bome sal lyk. Dit bring my 'n dilemma wat ons nou mee te doen het, naamlik die stompkopkewer en sy simbiotiese swam.
Dit bedreig veral ons bome. Daar het reeds artikels in die George Herald en ander media verskyn.
As ek dit reg verstaan, is daar in die stadium geen direkte oplossing nie. Die munisipaliteit wag nou al geruime tyd vir 'n verslag. Intussen is ons bome besmet. Kan jy jou voorstel as die meeste van die straatbome, veral die eikebome, afgekap moet word en verbrand moet word. Die publiek, veral die wat nie gereeld toegang het tot kommunikasie-tegnologie, behoort ingelig te word. Dit is 'n direkte verantwoordelikheid van die stadsvaders.
Andy Lamont
Wat kan gedoen word?
Die plaaslike owerheid het 'n verantwoordelikheid om inligting aan skole, kerke en gemeenskapsinstansies te gee.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'