GEORGE NUUS - Geen ouer wil die nuus hoor dat iets slegs met jou baba of kind by 'n speelskool, waar hulle veronderstel is om veilig te wees, gebeur het nie.
Nou het so 'n voorval hier in ons eie dorp gebeur, met die polisie wat bevestig dat hulle die voorval ondersoek.
'n Vroulike werker by 'n speelskool word daarvan aangekla dat sy 'n agt maande oue baba so hardhandig hanteer het, dat sy sleutelbeen gebreek het.
Die voorval het op 14 Februarie by Eden Pre-Primary & Day Care in Markstraat plaasgevind.
Die eienaars van die skool sê hulle is die oudste skool in die dorp, en dit is die eerste keer in die 26 jaar van die skool se bestaan wat so iets gebeur.
Die eienaars het by monde van hul regsverteenwoordiger, Pieter van der Merwe, kommentaar gelewer en gesê hulle betreur die beweerde voorval en veroordeel enige gedrag wat die welstand van die kinders nadelig beïnvloed ten sterkste.
"Verskeie regsaksies is geneem, wat ook tugstappe insluit. Ons respekteer die sensitiwiteit van die aangeleentheid en die privaatheid van die ouers en kinders."
Van der Merwe sê dit is onvanpas om enige besonderhede op hierdie stadium in die openbaar te versprei, veral gesien in die lig dat alle ondersoeke op 'n uiters sensitiewe stadium is.
"Ons kliënt is meer as bereid om enige inligting te deel sodra die regsprosesse afgehandel is."
Hy sê die skool se rekord spreek vanself en enige insidente waaroor ouers ongelukkig is, sal onmiddellik ondersoek word. Die skool en klaskamers is ook met GKTV-kameras toegerus wat die skool in staat stel om enige gevalle effektief te ondersoek.
'n Volledige verslag sal bekendgemaak word by afhandeling van die ondersoeke en met toestemming van die ouers. "Ons kliënt wil ouers gerusstel dat hierdie 'n geïsoleerde insident is wat ten sterkste veroordeel word."
Die ouers wou in die stadium nie met die media praat nie.
George Herald verneem die betrokke werker is sedert die voorval nie meer by die skool nie.
Volgens kapt. Malcolm Pojie, die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, is 'n saak van kindermishandeling deur die kind se ma op 17 Februarie, aanhangig gemaak.
Hy het bevestig dat die seuntjie se sleutelbeen gebreek is. George se gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele misdrywe eenheid (GKS) ondersoek die voorval.
Pojie sê die ondersoek is in 'n gevorderde stadium en konsultasie is reeds gedoen met die vervolgingsgesag oor die pad vorentoe. Hy het ook bevestig dat 'n arrestasie binnekort gemaak sal word.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'