Volgens inligting het ‘n groen Toyota, wat in die rigting na die dorp gery het, na bewering ‘n rooi verkeerslig verontagsaam en teen ‘n hoë spoed teen ‘n wit Toyota Camry gebots. Die Camry was onderweg van Mosselbaai en was besig om in Beachweg in te draai toe die ander motor dit tref.
Een van die passasiers in die Camry, Maria Cornelius (55) van Pacaltsdorp, is op die toneel oorlede. Sy het agter in die voertuig gesit. Die bestuurder van die Camry en nog ‘n vrou is met kop-, nek en rugbeserings na die hospitaal geneem. Reddingswerkers moes meganiese kake gebruik om hulle uit die motor los te sny.
Die bestuurder (23) van die groen Toyota is op die toneel vir dronkbestuur in hegtenis geneem. Hy sal ook aangekla word van strafbare manslag en verskyn vanoggend in die George-hof. Dis onduidelik of enigiemand in die groen Toyota beseer is.
