Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Drie honde het verlede week 'n vrou van Rosedale aangeval.
Charlene Albrecht (59) is verlede Maandag deur een Pitbull en twee ander honde gebyt, maar niemand het kom help nie.
Volgens Albrecht kon 'n man wat daar verbygeloop het haar help, maar hy het net sy kop weggedraai en aangestap.
Die voorval het so na 18:00 in Reubenstraat plaasgevind. Sy vertel sy wou gaan kyk waar 'n stootskraper rommel moes kom verwyder, toe sy deur die honde platgetrek is.
"Ek het hulle nie gewaar tot hulle om die draai, reguit op my afgestorm het nie. Ek het om hulp geskreeu, maar niemand het kom help nie."
Sy sê daar het eers na wat vir haar soos 'n ewigheid gevoel het, 'n man uit sy huis gekom en die honde verwilder. Sy het bytmerke aan haar sy en been en het 'n seer lyf van die val.
Kyk 'n video hieronder.
Mense in die straat het Woensdag aan George Herald bevestig die honde byt gereeld verbygangers en is 'n groot probleem. Een van die eienaars het aan die koerant gesê sy honde is net spelerig en as jy 'n klip optel en eenkant gooi, hulle jou alleen sal los. Hy het ook gesê dat die Pitbull blykbaar reeds na 'n ander buurt, waar die omheining meer geskik is, geneem is.
Reubenstraat in Rosedale waar die honde Albrecht aangeval het.
Richard von Willingh, die hoof van George-wetstoepassing, sê 'n persoon mag nie sy dier toelaat om vrylik in 'n openbare pad te beweeg sonder dat dit aan 'n leiband is nie. 'n Eienaar word ook net twee honde toegelaat en moet spesiale toestemming by die munisipaliteit kry vir meer. "'n Persoon wat die wet oortree kan krimineel aangekla, 'n boete opgelê en die diere kan weggevat word," sê Von Willingh.
Hy sê in die geval waar honde mense of ander diere byt, raak dit 'n kriminele klag wat teen die eienaar by die polisie gemaak kan word.
Volgens Von Willingh het hulle 'n goeie verhouding met die Tuinroete DBV, wat as diensverskaffer aan die munisipaliteit, beslag kan lê op rondloperhonde. Die DBV gee ook advies aan eienaars oor die korrekte manier om 'n perseel te beveilig.
Die byt aan Charlene se sy.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'