Update
GEORGE NUUS - 'n Ontevrede groep lede van die Visvangersvereniging van George, onder leiding van Isaac Barlow, het Dinsdagoggend, 14 Junie, voor George-landdroshof byeengekom vir 'n plakkaatprotes wat volgens hulle, spruit uit voortgesette intimidasie en rassisme.
Die Gwaiing Action Group (Gag) en lede van die gemeenskap het die aksie ondersteun.
Die vissermanne voel dat hul regte vir grondtoegang geskend word ten spyte van wetgewing wat hulle in staat stel om by hengelplekke uit te kom.
Een van die gewilde hengelplekke sluit in Blougat in die Pacaltsdorp-omgewing. Boere en grondeienaars versper na bewering toegang en hengelaars word glo gereeld geïntimideer en selfs aangerand.
"Ek vang al vis daar [Blougat] vandat ek 'n klein seuntjie was. Visvang is ons tradisionele praktyk oor die jare. Nou word daar heinings en versperrings opgesit sodat ons nie toegang moet kry nie. Wat het van ons gewoontereg geword?" sê Shaun Hector, plaaslike visserman en 'n gemeenskapsleier van die omgewing.
Protesaksie
Die protesaksie spruit uit 'n voorval waarin Hector glo verlede Dinsdag deur 'n grondeienaar (62) in die omgewing dreigemente en rassistiese kommentaar toegesnou is nadat hy en 'n groep vriende by Blougat visgevang het.
Volgens Hector het die voorval plaasgevind toe hulle op pad huis toe was.
"Ons was by ons voertuie op pad huis toe, toe die man langs ons stop en op ons begin skreeu. Hy het ons beskuldig daarvan dat ons sy heinings beskadig en gesê ons is h*tn*s wat nie daar mag visvang nie," sê Hector.
'n Konfrontasie het ontstaan waarna die man glo vir Hector gegryp en geklap het. Hy het daarna weggery.
Hector het 'n saak van aanranding by die Pacaltsdorp-polisie aanhangig gemaak.
"Die kwessie van grondtoegang om by strande en hengplekke uit te kom raak nou ernstig. Dit kom al jare aan en die situasie vererger. Die grootste oorsaak is voortgesette apartheid en rassisme wat gereeld kop uitsteek.
"Relevante owerhede kyk gereeld in 'n ander rigting en spreek nie hierdie kwessies aan nie. Hulle hanteer dit as onbenullig terwyl armer bruin mense se menswaardigheid geskend word. Mense ken nie hul regte nie en grondeienaars misbruik hierdie situasie," sê Hector.
Die groep sê hulle doen niemand skade deur te hengel nie, en dat hulle om verskeie redes visvang, wat onder andere ontspanning, en om kos op die tafel te sit, insluit.
Joseph Roberts met sy plakkaat.
Polisie bevestig voorval
Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, het bevestig dat 'n saak van aanranding by die Pacaltsdorp-polisie aanhangig gemaak is.
"Volgens inligting wat in hierdie stadium beskikbaar is, het die slagoffer en sy vriende vanaf Gwaiing gestap toe die verdagte hulle genader het. Daar word verder beweer dat hy op die slagoffer gevloek en hom geklap het. Die verdagte het daarna die toneel verlaat," sê Spies.
Die verdagte is in hegtenis geneem en was geskeduleer om Dinsdag 14 Junie in die George-landdroshof te verskyn. Die saak is egter nie op die rol geplaas nie en die verdagte is gewaarsku om op 'n volgende datum weer te verskyn.
Die groep wat Dinsdagoggend voor die hof hulle stemme wou laat hoor het.
Foto's: Kristy Kolberg
A disgruntled group of fishermen, supported by the Gwaiing Action Group (Gag) and members of the Pacaltsdorp community, gathered in front of the George Magistrate’s Court on Tuesday morning, 14 June, to picket against what they deem to be continued intimidation and racism. The fishermen feel that their rights to land access are being violated despite legislation enabling them to do what they love. One of the popular fishing spots includes Blougat in the Pacaltsdorp area where farmers and landowners are allegedly blocking access to fishing spots and fishermen are apparently regularly intimidated and even assaulted. The protest stems from an incident in which local fisherman and community leader, Shaun Hector, was allegedly threatened, assaulted and slandered with racist comments by a landowner in the area last Tuesday when he and some friends returned from a fishing trip at Blougat.
Vorige artikel: Vissermanne vang slange
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'