OUDTSHOORN NUUS - Die lang stryd waarin Oudtshoorn se voormalige munisipale bestuurder, Allen Paulse, gewikkel was nadat kriminele klagtes deur die vorige burgemeester, Colan Sylvester, en enkele raadslede teen hom gelê is, is skynbaar verby.
Paulse het hierdie week ‘n brief van die Valke ontvang waarin hy meegedeel is dat daar geen vervolging gaan plaasvind nie aangesien hulle van mening is dat so ‘n vervolging nie suksesvol sal wees nie.
Hy het reeds verlede jaar gesê dat hy volledig op elke klag gereageer het en verklarings aan die Valke gestuur het.
Hierdie klagtes was reeds bykans twee jaar gelede deur Sylvester en die paar raadslede by die plaaslike polisie gelê wat ook aangedui het dat daar nie gronde vir vervolging is nie. Op aandrang van die klaers is dit aan die Valke gestuur.
Sylvester het ook die regsfirma Weber Wentzel aangestel om die klagtes teen Paulse te ondersoek en die sogenaamde Weber Wetnzel-verslag het verlede jaar baie aandag getrek alhoewel die verslag dit duidelik stel dat dit eensydig opgestel is en dat daar nooit met Paulse gepraat is, of aan hom die geleentheid gegun is om sy kant van die saak te stel nie.
Die verslag het Oudtshoorn se belastingbetalers R2,2miljoen uit die sak gejaag en daar word verwag dat vrae nou van owerheidskant gevra gaan word oor die kanale wat gevolg is om die aardige bedrag te spandeer.
Inwoners vra reeds wie het die uitgawe goedgekeur en wie is nou verantwoordelik daarvoor. Sylvester het as burgemeester bedank toe hy ‘n tugverhoor van die DA in die gesig gestaar het.
Drie DA-raadslede wat in Sylvester se kamp was het ook verlede jaar bedank. Paulse het ook verlede jaar bedank en is tans in diens van die George-munisipaliteit waar hy as direkteur van gemeenskapsdienste aangestel is.
Hy het verlede jaar aan die Oudtshoorn Courant gesê dat hy vol vertroue is dat die sake wat teen hom aanhangig gemaak is ongegrond is, en dat persoonlike agendas daartoe gelei het dat hy onbepaald op velof geplaas is. Hy het besluit om te bedank en op sy eie toekoms te fokus.
Oudtshoorn Courant sal volgende week meer breedvoerig oor die kwessie berig.
Hieronder is die opsommingskennisgewing wat Paulse van die Valke ontvang het met verwysing na al 13 klagte wat teen hom ingedien is wat almal nou van die hand gewys is:
Kindly note that the Regional Head of the NPA’s Specialized Commercial Crime Unit on 7 December 2020 declined to prosecute in respect of all the dockets you listed below, as it was considered that there were no reasonable prospects of success in any of the matters.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'