GEORGE NUUS - Op 'n motorfiets is hy op sy heel gelukkigste, en 'n bewys daarvan is dat hy pas sy miljoenste kilometer binne 18 jaar op 'n ysterperd se rug geklok het.
"Ek kon myself nie 'n beter 50ste verjaarsdaggeskenk gegee het as hierdie mylpaal nie," sê Johan Kroep van George, wat op 5 Julie verjaar.
Sy miljoenste kilometer het hy die naweek aangeteken terwyl hy op reis was in die Sutherland-omgewing.
"Die Oubergpas naby Sutherland wat ek die afgelope naweek gery het, was tot dusver vir my die mees genotvolle pad om te ry. My volgende reis sal defnitief weer in die Karoo wees."
Dit is 'n groot pluimpie vir die Karoo as 'n mens in ag neem dat Kroep al 47 lande besoek het. Hy het verskeie lande in Afrika en Europa al deurkruis, en ook 'n draai gemaak in Rusland, Tjeggo-Slowakye en China.
Elke keer neem hy 'n paar Bybels saam om uit te deel waar hy kom. "Ek het op hierdie manier al honderde Bybels die wêreld in gevat," vertel Kroep.
"Die moeilikste was om Christelike lektuur by China in te neem. Dit was ook moeilik om Portugese Bybels in die hande te kry wat ek kon saamvat na Mosambiek en Angola. Uiteindelik moes ek hulle uit São Paulo bestel."
Om Bybels in China in te neem, het hy altyd Hongkong toe gevlieg, daar 'n motorfietsbaadjie gekoop, die beskermende dele uitgehaal en Bybels daarin versteek. Dan is hy per motorfiets na China toe vir die dag.
George Herald het 'n paar jaar gelede berig hoe Kroep na ander streke in Suid-Afrika ry en etlike 1 000 kilometer aflê om vir plekke te gaan bid tydens droogtetye. Die meeste van die tyd toer hy alleen.
Hy het in 2004 begin motorfiets ry. Sy eerste fiets was 'n KLR 600. Daarna het hy verskeie BMW's gehad voordat hy 'n Harley Davidson aangeskaf het.
Johan Kroep in Kemptonpark in 2014.
Toe sy nuwe Street Glide in 2016 gesteel word, het hy weer 'n BMW 1200 GSA aangeskaf, maar drie jaar later besluit om Honda te probeer en 'n DCT aangeskaf. Dié ry hy nog steeds.
Kroep het op al sy reise baie min teëspoed gehad. Daar was een keer 'n pap wiel. Tydens 'n ander toer deur Afrika het die dryfas van die BMW waarmee hy gery het in Zambië gebreek en moes hy sy reis kortknip.
Hy sien nou uit na sy tweede miljoen kilometer en daarvan wil hy nog baie plekke in Suid-Afrika ervaar, maar hy sal Rusland ook weer wil besoek. En dit moet op twee wiele wees want, sê hy: "Die vryheid van menswees is op 'n motorfiets."
Johan was in 2014 ook in Thailand. Hy het daar van die noorde na die suide getoer en 'n afstand van 1 700 km in agt dae op 'n bromponie afgelê.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'