Update
GEORGE NUUS - Tania Kelly (46), 'n voormalige heroïenverslaafde van George, het onlangs 'n besoek van haar 17-jarige dogter van wie sy vir jare vervreem was, ontvang. Kelly is sedert 21 Julie by 'n rehabilitasiesentrum in die Weskus, Together We Can, opgeneem, nadat 'n lang verlore skoolvriendin haar hartseer verhaal op die George Herald webtuiste gelees het.
Kelly se vriendin, Marguerite Smit, het 'n aanlynplatform geskep waardeur Kelly se verblyf by die sentrum gefinansier word. Met Smit se laaste inskrywing op 7 Oktober deel sy die goeie nuus dat Kelly steeds ongelooflik goed doen, 'n gesonde gewig van 70 kg bereik het en straal na 'n besoek van haar dogter wat sy etlike jare gelede gesien het.
"Ek was aangedaan deur hierdie dapper jong dame, wat haar hart op haar mou gedra het en die baie moeilike stap geneem het om haar ma, van wie sy op 'n baie jong ouderdom verwyder was, van aangesig tot aangesig te sien," het Smit geskryf.
Die dogter, wat nie haar naam genoem wil hê nie, het na die besoek gesê sy het haar ma nog nooit so vreedsaam en gelukkig gesien nie. "Sy is kalm en ek weet hierdie keer gaan sy deurdruk," het sy gesê.
Kelly sal na ses maande in rehabilitasie toegelaat word om 'n kursus te begin wat haar in staat sal stel om ander verslaafdes by die sentrum by te staan. Na die kursus mag sy toegelaat word om nuwelinge by die sentrum te help.
"Dit is een van haar grootste drome en sal vir haar 'n groot mylpaal wees," het haar dogter gesê. "Sy is meer hoopvol as wat ek haar al ooit gesien het, sy glo werklik dat sy gaan genees want sy sê haar 'heroïenlewe sluit nie familie in nie', en sy wil slegs haar familie van nou af hê."
Lees vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'