Update Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Ouers by 'n paar skole in George het Maandag, asook Dinsdagoggend aan 'n protesaksie deelgeneem en daarop aangedring dat die skole moet sluit vir die veiligheid van die leerders, onderwysers asook die breë gemeenskap.
Ouers van New Dawn Park Primêr, Conville Primêr asook Hoërskool Pacaltsdorp het 'n plakkaatoptog gehou waar hulle vra dat die skole liewer gesluit word vir die winter of tot dit veilig is vir kinders om terug te gaan skool toe. Ouers het selfs gekeer dat onderwysers en leerders die skole binnegaan.
Conville Primêr
Ouers van Conville meen juis omdat niemand vooraf weet of hulle met die virus besmet is nie, kan daar nie voorsorgmaatreëls getref word nie. By Conville Primêr was daar 14 onderwysers in selfisolasie en die hoof, Sam Crowley, moes teen laat verlede week ook in selfisolasie gaan as 'n voorsorgmaatreël en homself laat toets.
New Dawn Park Primêr
Ruth Miller, die hoof van New Dawn Park Primêr, sê sy kan nie hul skool met enige ander skool vergelyk nie, maar weet dat hulle nie 'n veilige afstand sal kan handhaaf met die leerders in die kleiner grade nie.
"Ek ken ons kinders se huislike omstandighede en weet dat baie ouers nie maskers of ontsmettingsmiddels kan bekostig nie. Baie het nie eens elke dag water tot hul beskikking nie." Miller sê hulle ondersteun die ouers wat vra dat die skool ten minste vir die winter gesluit moet word. Volgens Miller besef die departement nie hoeveel druk daar op grondslagfase onderwysers geplaas word, noudat grade R tot 3 op een slag terugkom nie.
Die skole het Dinsdag met hul onderskeie kringbestuurders ontmoet waar daar oor al die kwessies gepraat is. Daar sal teen Vrydag 'n plan deurgegee word oor wat Maandag gaan gebeur.
Kyk 'n video hieronder:
Aan New Dawn Park se ouers is dit gekommunikeer dat indien hulle nie die kinders in die skool wil hê nie, hulle self verantwoordelikheid moet neem dat die kinders nie agterraak met sy of haar skoolwerk nie.
Dit is ook aan ouers duidelik gemaak dat nie die kringbestuurder óf die plaaslike distrikskantoor die mag het om 'n skool te sluit nie.
Terugvoer van WKOD
Bronagh Hammond, woordvoerder vir die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) sê die besluit om skole te heropen, was 'n besluit deur die nasionale minister van basiese onderwys, wat deur alle provinsiale ministers ondersteun is. Sy sê dus het die WKOD 'n mandaat om onderwys te bied aan leerders as deel van die infaserings-benadering.
Hammond sê ook dit is belangrik om kennis te neem dat die ekstra grade wat volgende week teruggaan skool toe, nie almal op dieselfde tyd by die skool gaan wees nie. Sy sê elke skool is gevra om 'n plan in te dien oor hoe hulle die ekstra leerders kan hanteer. "Die meerderheid skole het reeds hul planne ingehandig, van die planne sluit in dat leerders op alternatiewe dae of weke by die skool is of selfs in skofte skool bywoon."
https://cms.groupeditors.com/img/eabe4046-aba9-4937-91fc-452ae90a6dad.JPG
Volgens Hammond gaan daar ook opvolgaflewerings van ontsmetmiddels sowel as maskers vir die volgende grade gedoen word. Daar sal binne die volgende paar dae regulasies aan skole deurgegee word vir ouers wat wil aansoek doen om hul kinders uit publieke skole te haal. Sy sê ouers mag nie ander verhoed om hul kinders skool toe te stuur nie.
"Daar is regte prosesse vir die ouers wat nie hul kinders in 'n skool wil hê nie, maar dit hoef nie die te affekteer wat wel die keuse gemaak het om skool by te woon nie."
'n Ouer van Hoërskool Pacaltsdorp neem deel aan die protesaksie oor die leerders se veiligheid en gesondheid.
Ouers het Dinsdagoggend 'n protesaksie buite Conville Primêr gehou.
Verwante artikel: Ouers verhoed skole om oop te maak
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'