GEORGE NUUS - Hoërskool Outeniqua het gister in ‘n brief aan ouers aangekondig dat hulle ‘n gr. 12-leerder het wat positief getoets het vir Covid-19, maar dat hulle nie die skool gaan sluit nie.
In die brief sê Christo Vorster, die skoolhoof, dat hulle Dinsdag 16 Junie uitgevind het, maar moes hulle sekere voorskrifte van die onderwysdepartement volg voor hulle dit kon bekendmaak.
Vorster sê al die leerders en onderwysers wat in kontak met die spesifieke leerder was, is in selfisolasie, en sal na agt dae gaan vir toetse.
“Ons het elke protokol nagekom en gebruik ook ultravioletligte om die klasse se ontsmet na elke sessie.”
Hy sê juis omdat elke maatreël gevolg en nagekom is, het hulle in samewerking met die distrikskantoor en die hoof van onderwys besluit om nie die skool te sluit nie.
Leerders en personeel van Outeniqua loop ook elke dag deur bakke, wat die kieme aan die sole van hul skoene doodmaak.
Ook York High se hoof, Francois Moll, het in ‘n aanlynbrief baie deeglik verduidelik hoe die skool hul Covid-19-geval gaan hanteer.
Moll sê die leerder wat positief getoets het, bly by die skool se koshuis en die omgewing daar is baie meer soos familie.
“Dit is dus moontlik dat enige van die leerders daar kontak met hom gehad het.”
Hulle het dus saam met die hoof van onderwys besluit om die skool te sluit dat dit deeglik skoongemaak kan word.
Moll sê omdat sosiale afstand wel tydens skool ure toegepas is, hoef daardie leerders nie te selfisoleer nie. Hy het ook ouers verseker dat hy enige van hul bekommernisse sal aanspreek.
VERWANTE ARTIKEL: SHOPS, SCHOOLS AND COURTHOUSE AFFECTED BY COVID-19
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'