Update
GEORGE NUUS - Die liggaam van die Pacaltsdorp-sakekamer se voorsitter, Julian Klassen (69), is Vrydagoggend 9 November in die plantasie agter die Hawthorndene-hotel gevind.
Geen misdaad word vermoed nie. Die polisie het 'n doodsondersoek geopen.
Klassen se familie het Donderdagmiddag 'n verklaring uitgereik waarin die publiek se hulp gevra word om hom op te spoor nadat hy twee dae vantevore by die huis weg is en nie weer teruggekeer het nie. Hy is Dinsdagmiddag 6 November laas in die dorp in Markstraat gesien.
Sy vrou, Blanche, het gesê hy was onderweg na die gedenkdiens van die brandslagoffers van Farleigh naby Karatara. Hy is laas gesien waar hy in die dorp van 'n bus afgeklim het. Volgens mev. Klassen sou hy iemand ontmoet het wat hom 'n geleentheid na Farleigh sou gee.
"Hy het die huis om 14:40 verlaat. Ons seun was die laaste een wat hom gesien het. Volgens sekuriteitskameramateriaal het hy ná 15:00 in die dorp aangekom. Hy is daarna nie weer gesien nie. Dit is ongewoon van Julian. Hy slaap nooit uit nie behalwe as hy 'n konferensie of vergadering bywoon en dan weet ek daarvan," het sy gesê.
Klassen het sy selfoon by die huis gelos omdat die battery vroeër die dag pap geraak het. Volgens mev. Klassen het haar man betreklik goeie gesondheid geniet. Hy was bekend as 'n gemeenskapsleier en is vroeër vanjaar as voorsitter van die sakekamer aangewys.
Dr. Willie Cilliers, voorsitter van die Afrikaanse Handelsinstituut, het namens die organisasie medelye met die Klassen-gesin uitgespreek. "Ons hoop dat hulle vertroosting sal vind. Ons het die afgelope twee tot drie jaar met Julian saamgewerk om die sakekamer te vestig, en dit is inderdaad in Juliemaand gedoen. Ons gee erkenning vir die eerste treë wat hy gegee het as die voorsitter. Daar is baie wat die sakekamer moet doen vir die skep van geleenthede in Pacaltsdorp en ons hoop die lede kan hulleself so gou moontlik herorganiseer om hul belangrike rol in die gemeenskap te vervul. Ons sal van ons kant af doen wat ons kan om hulle by te staan."
'n Gedenkdiens word Donderdagaand 15 November om 19:00 by die AGS Kerk in Pacaltsdorp gehou en 'n begrafnisdiens op Saterdag 17 November om 10:00 by Eagle's Nest Ministries in Pacaltsdorp.
'n Privaat verassing sal plaasvind. Mev. Klassen het gesê in stede van blomme sal donasies vir die mense van Karatara wat brandskade gehad het, waardeer word.
Lees vorige artikels;
'We bring you the latest George, Garden Route news'