GEORGE NUUS - Die George-munisipaliteit doen ondersoek na verskeie onsmaaklike voorvalle wat die afgelope tyd by die stortingsterrein naby die skouterrein plaasgevind het.
Die George Herald het navraag by die munisipaliteit gedoen nadat 'n leser 'n voorval wat verlede Vrydag, 15 November, by die stortingsterrein plaasgevind het, onder die koerant se aandag gebring het.
Walter Hendricks, direkteur gemeenskapsdienste van die munisipaliteit, het bevestig dat daar die laaste twee weke "verskeie voorvalle" was.
Die leser, Serf Roderigues, het vertel hy wou verlede week takke en ander vullis by die stortingsterrein gaan weggooi. As gevolg van die reën kon hy dit nie doen nie. Hy is toe Vrydagoggend na die stortingsterrein toe die weer verbeter het. Daar aangekom het hy ingeteken en hy en een van sy werknemers, Simon Roloweni, het met sy voertuig deur die hekke beweeg.
Bo by die stortingsterrein, waar hy gewoonlik die vullis weggooi, kon hy weens 'n groot modderdam nie verder ry nie.
'n Man op 'n stootskraper het vir hom en Roloweni beduie hulle moet aanbeweeg. Hy wou nie omdat dit sy voertuig kon beskadig.
Volgens hom is hulle die volgende oomblik deur mense omsingel. "Hulle was dreigend en het klippe na ons gegooi. Ter wille van ons eie veiligheid het ons toe onttrek."
Roderigues is baie ongelukkig. "Ek wil nie vullis onwettig gaan weggooi nie en het daarom na die terrein gegaan."
Hy wil mense waarsku om versigtig te wees wanneer hulle die stortingsterrein besoek.
Hy is bewus van 'n man wat kort voor hom die stortingsterrein besoek het. "Die man het deur die modderdam gery en dit het gelyk of sy voertuig beskadig is."
Hendricks het gesê sy departement het 'n verslag by die sekuriteitsfirma aangevra rakende die verskillende voorvalle. "Ons beoog om 'n vergadering met Beskermingsdienste te reël."
Volgens hom is die munisipaliteit geskok deur die voorvalle van rampokkery. "Ons vra om verskoning en sal dit aanspreek."
Die afgelope weke se voorvalle is 'n groot probleem vir die munisipaliteit aangesien die munisipaliteit nie die diens kry waarvoor die sekuriteitsfirma betaal word nie. George-munisipaliteit moet elke insident aan die Wes-Kaapse departement van omgewingsake rapporteer.
Oor die toeganklikheid van die terrein het Hendricks gesê daar is gewoonlik 'n probleem met toeganklikheid wanneer dit reën en modderig is. "Na die reën is die perseel weer netjies en toeganklik vir die publiek."
George Municipality has started an investigation after users of the terrain were threatened in several incidents at the municipal waste site the past two weeks. Walter Hendricks, director of community services at the municipality, apologised and said the matter will be addressed.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'