GEORGE NUUS - Die DA-beheerde stadsraad van George is onder druk om raadsvergaderings meer toeganklik vir die publiek te maak.
Op die oomblik kan die publiek verrigtinge slegs per kringtelevisie in 'n ander gebou volg.
Die media kan wel in die raadsaal sit om foto's te neem en gebeure te volg vir verslagdoeleindes. Die media se sitplekke was egter verlede week ook in die gedrang, maar dit is die afgelope Maandag weer reggestel.
Chantel Edward-Klose, die munisipale woordvoerder, het Dinsdag gesê die uitsprake wat verlede week in die raadsaal gemaak is rondom die media se teenwoordigheid binne die raadsaal, was onjuis en dat raadsvergaderings oop is vir die media.
'n Herrie het losgebars toe dit tydens verlede week se raadsvergaderings bekend word dat die media na 'n lokaal buite die raadsaal geskuif gaan word.
Die speaker van die stadsraad, Gerrit Pretorius, het tydens 'n buitengewone raadsvergadering gesê die media mag nie meer op hul gewone sitplekke sit nie, tensy hulle foto's neem.
Melvin Naik, George se burgemeester, het later die oggend, tydens 'n gewone stadraadsvergadering, die media vir die "laaste keer wat hulle hier is" verwelkom.
Memory Booysen, burgemeester van die Garden Route-distriksmunisipaliteit, het gesê hy kan nie kommentaar lewer oor die situasie in George nie.
Bongikosi Madikizela, die DA-leier in die Wes-Kaap, was verras toe hy verlede week ingelig is dat die media nie meer in die George-raadsaal mag sit nie.
"Ek stem nie daarmee saam nie."
Hy het onderneem om die saak te ondersoek en met Naik en Pretorius kontak te maak om hom te vergewis van die feite. "Ons (die DA) respekteer mediavryheid."
Hy sê die media moet toegang tot raadsvergaderings hê sodat hulle hul werk kan doen.
Alan Winde, DA se premierskandidaat in die Wes-Kaap, het gesê die DA is ten gunste van oop vergaderings. "Hoe meer oop, hoe beter."
Bazil Petrus, stadsraadslid van SAC, wat verlede week vrae oor die skuif gehad het, het die jongste verwikkelinge verwelkom. Hy het gesê die media moet ongehinderd toegelaat word om hul werk te kan doen. Wat van publiek?
Dit strek egter verder. Die media én die publiek moet ten volle toegang hê. "Ek hoop dat daar so gou moontlik 'n oplossing kom." Volgens Petrus is die media 'n belangrike skakel tussen die raad en die gemeenskap.
Darryll Sauer, voorsitter van die ANC in George, sê die feit dat die openbare galery vir die publiek gesluit is, maak inbreuk op demokrasie. Verrigtinge kan wel op kringtelevisie gevolg word, maar die beeld en klank is soms swak. Mense kan nie in so 'n situasie behoorlik volg wat aan die gang is nie.
Jaco Londt.
Die ANC vra dat die situasie reggestel word soos dit voorheen was. Dit gaan oor die publiek en die media.
"In die parlement en die provinsiale wetgewer is openbare galerye. Hoekom moet George dan anders wees?" wou hy weet. "Dit ontneem leerlinge van skole, studente en die breë gemeenskap om die werksaamhede van 'n raadsvergadering eerstehands te kan beleef."
Oor sitplekke vir die publiek het Jaco Londt, voorsitter van die DA se oosstreek, gesê alle munisipaliteite het beperkte sitplek. "Dit is die verantwoordelikheid van elke munisipaliteit om sitplekke regverdig te allokeer en om te sien na veiligheid."
Memory Booysen, burgemeester van die Garden Route-distriksmunisipaliteit, het gesê hy kan nie kommentaar lewer oor die situasie in George nie. By die Garden Route-distriksmunisipaliteit sit die publiek en die media wel in die raadsaal op 'n spesifieke plek. Die media en publiek word toegelaat ter wille van deursigtigheid. Dit is belangrik in 'n demokrasie.
Pressure is mounting to make George council meetings more accessible to the public. At the moment the public must watch council activities via closed circuit television in an adjacent building. Last week the media was informed they too would no longer be allowed in the chamber except to take photos. This decision was later reversed. The decision regarding the public remains in force.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'