"Ons maak maar ‘n plan en las geld bymekaar om die kos aan te koop," vertel mev. Noble wat al drie jaar lank ‘n sopkombuis van haar huis af bedryf.
Die ‘Brood van die Lewe’ is vir haar en haar seun Gregory ‘n geloofsaak. Hulle kry geen geldelike steun van enige instansie nie, dus moet hulle maar self die mas opkom.
Gregory, wat ook bekend is vir sy radiowerk by EDENfm en fondsinsamelingskonserte, sit ook handjie by in die bedrywige kombuis in Beukesstraat, Pacaltsdorp.
Sy mag dalk 71 wees, maar het onlangs die 100 meter hardloop gewen gedurende die Departement van Kultuur en Sport se Golden Games vir bejaardes. Sy leef die filosofie dat diegene wat mildelik gee ook ruimhartig sal ontvang, "want die Here is goed vir diegene wat sy medemens van diens is".
Op die gebied van naastediens is Cecelia se familie taamlik bekend op Pacaltsdorp. Haar oumagrootjie Katarina (Ouma Bets) Saayman was ‘n vroedvrou en die beroep is deur drie geslagte voortgesit. Dus was niemand verbaas toe Cecelia haar as verpleegster bekwaam het nie. Sy het altesaam dertig jaar diens gedoen by die ACVV, by die Santa TB Hospitaal en by die St. Vincent Palotti Hospitaal. Sy was goed bekend aan die dorp se geneeshere soos dr. Stander en dr. Piet Steyn wie se hulp sy ingeroep het as daar ‘n komplikasie met pasiënte was. Vroeër jare is daar nog van perde- en donkiekarre gebruik gemaak om by pasiënte uit te kom.
So tussendeur die verpleëry is sy getroud met die plaaslike bouer, Johnny Noble saam met wie sy agt kinders (sewe seuns en een dogter) grootgemaak het. Hulle het een seun aan die dood afgestaan. Die kinders het almal goeie beroepe, met een seun wat as advokaat praktiseer.
Mev. Noble is ook lief vir kamp en het dikwels met die kinders na Gwaingmond "Cragieburn" afgesit om ‘n naweek uit te span.
Ná haar aftrede het sy heelwat bejaardeversorging gedoen. Sy het ook ‘n sertifikaat in vigsberading by FAMSA voltooi. Volgens haar seun is sy ma ‘n egte Florence Nightingale. Deesdae gaan stap sy smiddae om fiks te bly, en het tot onlangs nog weer ‘n kleinkind grootgemaak. Maar vir eers geniet sy dit nou om afgetree te wees, te brei, naaldwerk en siekebesoek te doen.
Plakkers trou
"Ek het gesorg dat baie egpare getroud kom. In die plakkerskampe waar egpare sommer so saamwoon het ek gaan praat met hulle en gesê die gesaamblyery is nie reg nie. Die Here het kom praat met my. Die lewe gaan so vinnig verby, julle moet sorg dat julle getroud kom. Dikwels het ek gesorg vir ‘n troupak (sommer gaan kyk wat is in die klerekaste by die huis) en die dominees aangesê dat hy hom moet regmaak vir nog ‘n troue."
Ja-nee, daar staan niks vir Cecilia Noble se hande verkeerd nie. Sy sê: "’n Mens moet dinge vir jou gemeenskap doen met jou hele hart."
Blykbaar werk dié filosofie in die klein Pacaltsdorpse huisie - sy straal van geluk en haar seun Greg is net so lief om sy kant te bring in diens van die gemeenskap.
 (Small).jpg)
Cecelia Noble en haar seun, Gregory wys die pampoene wat welig in hul agtertuin groei, en wat vanselfsprekend in die soppotte beland. Pa, Johnny (oom boet) Noble loer by die deur uit.
ARTIKEL EN FOTO'S: PAULINE LOURENS, GEORGE HERALD-JOERNALIS