Gallery
GEORGE NUUS - Rosemoor-ouetehuis is Sondagaand, 18 November, gedeeltelik deur 'n brand beskadig.
Die oorsaak van die brand is nog nie bekend nie. Die kamer waar die brand omstreeks 19:00 ontstaan het, is in puin gelê en sal heeltemal oorgedoen moet word. Die inwoners van dié kamer het ook al hul besittings verloor.
Agt ander kamers wat altesaam 16 bejaardes huisves, moes ontruim word. Dié inwoners van die ouetehuis moet nou op matrasse op die grond in 'n saal op die perseel slaap terwyl die gedeelte van die gebou reggemaak en oorgeverf word.
Ike Williams, die bestuurder van die ouetehuis, wil graag sy personeel bedank vir hulle flink optrede.
"Te danke aan hulle was daar geen beserings nie. Die brandweer was ook vinnig op die toneel om die vlamme te blus. 'n Spesiale dank aan die voorsitter van die inwonerskomitee, Christo van der Linde, wat sy lewe gewaag het om Jeffrey Jones uit die vlamme te red. Ons is baie dankbaar dat niemand seergekry het nie.
"Die skade aan die gebou is nog nie bevestig nie, maar ek skat dit sal so R500 000 wees," sê hy.
Indien enige besighede of lede van die publiek donasies van enige vorm wil maak, skakel Williams by 044 871 1342.
Christo van der Linde, wat sy lewe gewaag het om Jeffrey Jones uit die vlamme te red.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'