GEORGE NUUS - Wat veronderstel was om 'n heerlike uitstappie met sy boot te wees, het vir 'n voormalige stadsraadslid van George, Gert Niehaus, in 'n oogwink in 'n nagmerrie verander.
Niehaus is in Desember ernstig beseer tydens 'n boot-ongeluk by Island Lake, Wilderness. Sy skouer is uit pootjie geruk en sy sleutelbeen vergruis.
Niehaus het eers verlede week weer sy verpligtinge by sy sakeonderneming, Avbob George hervat en hy moet bygestaan word. Hy kan nie behoorlik skryf en tik nie. 'n Lang pad na herstel lê voor.
Niehaus vertel dat hy op 17 Desember (dit was 'n vakansiedag) saam met familie en vriende by die water was. "Ek is baie lief vir die buitelewe en die boot is my passie."
Hy hou van ski en 'n paar maande gelede het hy 'n nuwe boot gekry. Die dag het hy "gebody" surf. "Dit was 'n aangename dag," het Gert vertel.
In 'n stadium was hy agter die stuurwiel van die boot. Hy het staan en bestuur. Sy dogter, Gerlinda was saam met hom op die boot. Hy het 'n vriend van haar agter die boot getrek wat kniebord gery het.
Later het die water redelik rof begin raak, maar alles het goed gegaan.
Toe tref 'n brander die boot. Die hele boot het uit die water gelig. Dit het veroorsaak dat die tou waarmee hy die vriend van sy dogter getrek het, die motor van die boot laat swaai het.
Die boot het getol en uitgesny. Niehaus het toe teen die kant van die boot geval. Vir 'n oomblik was hy bewusteloos.
Toe die boot tot stilstand kom en hy weer by sy positiewe was, het hy besef daar is groot moeilikheid.
"My skouer was uit pootjie. Ek was totaal in skok en die pyn was ondraaglik. My dogter het die boot na die wal bestuur. Ek kon nie self uit die boot klim nie en 'n vriend het my gehelp. My vrou, Melinda, het my dadelik na Mediclinic George se noodeenheid geneem."
Niehaus het eers onlangs weer sy verpligtinge by sy sakeonderneming, Avbob George hervat en hy moet bygestaan word. Hy kan nie behoorlik skryf en tik nie.
Hy is opgeneem en onder verdowing is sy skouer weer terug in posisie gedruk. Toe is ook vasgestel dat sy sleutelbeen vergruis is. Die dokter het hom meegedeel daar is nie veel wat hy kan doen nie. Hy moes hom baie stil gedra.
Verlede week het hy begin werk. "Ek kon nie langer wegbly nie. Ek is die eienaar. My dogter staan my nou by."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'