Jacques Rosekrans (25), sy niggie, Shireen Abdol (11) en 'n vriend, Elzano Coetzee (7), almal van Rosemoor, se liggame is kort na 14:00 deur duikers uit die dam gehaal terwyl geskokte familielede toegekyk het.
Die vermoede is dat een van die kinders, of moontlik al twee, in die moeilikheid beland het en Rosekrans hulle probeer red het.
Mnr. Ghaddafi Abdol, Shireen se pa, het Dinsdag gesê hy het so 12:30 by die huis aangekom vir middagete toe sy skoonsuster kort daarna by die huis ingestorm het om te sê Elzano het verdrink. Hy het in sy motor gespring en na die dam gery.
"Ek het na Shireen gesoek, gevra waar is my meisiekind. Toe hoor ek vir die eerste keer sy en Jacques, my susterkind, is nog in die water. Dit was so onwerklik, ons het daar gestaan en kyk hoe hulle die liggame een vir een uitbring. Hulle het nie ver van die wal, almal langs mekaar onder die water gelê," sê Abdol.
"Ek het so lank gewag vir haar, sy was my laatlam, 'n engel," het Abdol, wat vier ouer seuns het, oor sy enigste dogter gesê.
Shireen laat ook haar ma, Katriena en broers, Kenneth, Griffith, Winfred en Heinrich agter.
Klein Elzano se ma, Janine Coetzee sê sy kan nou nog nie glo hy is weg nie. "Die kinders gaan gereeld Sondae saam met grootmense by die dam piekniek hou en Zano het dit altyd geniet."
Hy laat sy ma en drie jonger susters, Janay, Chrishay en Petrolene agter.
Die kinders word Saterdag om 09:00 uit hul ouerhuise begrawe. Shireen by Hurterstraat 5, Rosemoor en Elzano by Mullerstraat 8.
'n Gesamentlike kerkdiens sal om 10:00 by die Rosemoor-gemeenskapsaal gehou word.
Rosekrans, wat sedert sy tienerjare in Rosemoor woon, word volgende Saterdag 22 November op sy geboortedorp Carnavon begrawe. Die oudleerder van George Hoërskool het by Lancewood gewerk.
In nog 'n voorval Saterdagmiddag het die 15-jarige Reagan Appolis, 'n leerder van Pacaltsdorp Hoërskool, in 'n dam naby Syferfontein verdrink.
Kapt. Bernadine Steyn, die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder sê die polisie ondersoek die voorvalle.
Klik hier vir 'n vorige nuusflits.

Elzano Coetzee (7), was 'n gr. 1-leerder aan St. Pauls Primêr.

Shireen Bronay Abdol (11) was in gr.6 by Hibernia Primêr.

Jacques Rosekrans (25)
ARTIKEL: LIZETTE DA SILVA, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'