Update
GEORGE NUUS - Ná byna vyf jaar is 'n man wat vir die 2016-moord van die 24-jarige Keenan Jackson van Pacaltsdorp aangekla is, verlede Vrydag, 30 Julie, in die George-streekhof tot 15 jaar tronkstraf gevonnis.
Deswill Marais (26) is daarvan aangekla dat hy Jackson tydens 'n onderonsie in Desember 2016 by 'n kroeg in Harmonypark, Pacaltsdorp, doodgesteek het.
Die polisie het destyds gesê dat Jackson na bewering binne die kroeg gesteek is en daarna in die parkeerarea aan sy wonde beswyk het.
Marais het glo van die toneel gevlug, maar die polisie het hom later in New Dawnpark vasgetrek.
LEES MEER: Borgtog vir jong man na moord in kroeg
Jackson se stiefma, Jacky Smith, het ná die hofverrigtinge gesê dat die familie tevrede is met die vonnis. "Ek het elke hofsaak bygewoon. Dit was vir die hele familie ongelooflik traumaties en hartseer.
"Ons is bly ons kan nou dié hoofstuk afsluit," het sy gesê.
'n Vriendin van Jackson, Varity Edwards, sê hy was 'n stil mens en haar beste vriend. "Niks gaan hom terugbring nie, maar ek berus by die vonnis wat gegee is.
"Daar gaan nie 'n dag verby wat ek nie aan hom dink nie."
Marais se regsverteenwoordiger, Winston Jansen van Winston Jansen Prokureurs, het egter aangedui dat hulle teen die vonnis gaan appelleer.
LEES MEER: 2 Men stabbed to death
Die saak het voor landdros Emma Moloro gedien en Hankie Marx was vir die staat.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'