GEORGE NUUS - Ná blitsige optrede deur Conville-polisie, is 'n 36-jarige man Dinsdagaand, 1 Maart in hegtenis geneem ná 'n jongman (19) van Maraiskamp, vroeër die dag met 'n mes doodgesteek is. Die voorval het omstreeks 15:00 in Kabeljoustraat plaasgevind.
Suid-Kaapse polisiewoord-voerder, sers. Chris Spies, het die voorval bevestig. "Met die polisie se aankoms op die toneel het hulle die slagoffer in die straat gevind.
Hy het 'n steekwond aan sy lies gehad en is deur paramedici dood verklaar," het Spies gesê.
Die polisie kon nie bevestig of dit 'n bendeverwante voorval was nie. Teen druktyd Woensdagoggend was die verdagte steeds in aanhouding en geskeduleer om later die week in die hof te verskyn.
Die polisie kon nie die slagoffer se identiteit teen druktyd bekendmaak nie.
"Dit is juis om sulke voorvalle te verhoed dat ons die gemeenskap nodig het om met ons hande te vat en misdaad in die omgewing te bekamp," sê Conville-buurtwag se voorsitter, Rudy Lewis.
Lewis en 'n span van ander buurtwaglede, lede van die gemeenskapspolisiëringsforum en sekerheidsbeamptes, patrolleer elke naweek Conville se strate, maar Lewis meen hulle het beslis die gemeenskap se hulp ook nodig.
Belangstellendes kan Lewis by 061 977 6098 kontak.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'