GEORGE NUUS - Die liggaam van Abraham Pieterse (59) van Noordstraat Pacaltsdorp is Maandag 3 September vroegoggend in die oop stuk grond langs Beachweg, oorkant die Spar-winkelsentrum, gevind.
Die oorledene is Sondag laas lewend saam met vriende in die veld gesien.
Volgens kapt. Malcolm Pojie, die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het 'n verbyganger op die liggaam afgekom.
"Voorlopige inligting dui daarop dat die oorledene deur een van die mans, wat die middag saam met hom daar gesit het, met 'n stuk hout oor die kop geslaan is. 'n Moorddossier is geopen vir ondersoek. 'n Verdagte is reeds in hegtenis geneem en sal binnekort in die George-landdroshof verskyn op 'n klag van moord," het Pojie gesê.
Verdrinking in die Schaapkoprivier
Die liggaam van Frederick Johannes Moses (44) is op Donderdag 30 Augustus by die Schaapkoprivier in Pacaltsdorp gevind. Moses is die vorige dag by die Pacaltsdorp-polisiestasie as vermis aangemeld. 'n Lid van die polisie se honde-eenheid het op die liggaam afgekom waar dit halflyf in die water gelê het. Kaptein Lorraine Coetzee, hoof van ondersteuningsdienste by die Pacaltsdorp-polisiestasie, het gesê die persoon het skynbaar gegly en geval, en toe verdrink.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'